Baie welkom, en baie dankie dat jy hier lees.

Ian Wessels

Toe Lux Verbi se uitgewers Erika Oosthuysen en Susan Jordaan my iewers in die winter van 2020 vra waaroor ek ‘n boek sal wil skryf, het die woord “resilience” dadelik by my opgekom.

En as jy my as joernalis in die middel van die nag sou vra watter van die onderhoude ek na meer as twee dekades steeds onthou, sal dit nie ‘n voorblad met ‘n glanspersoonlikheid wees nie (behalwe natuurlik vir enkele baie inspirerende voorbladvroue soos Hanna Grobbelaar, Lindie Strydom en nog so twee of drie).

Nee, ek sal jou waarskynlik eerder vertel van ‘n onbekende mens wat ‘n onvergeetlike dapper ding gedoen het. Of wat eenvoudig geweier het om tou op te gooi. Want dit is die soort mense wat nie net ‘n manier vind om op hulle voete te land na ‘n krisis nie, maar wat ook boonop in die proses ander mense inspireer of selfs help.

Onder my naaste mense is daar ook heelwat veerkragtige mense, en dis hulle wat my altyd inspireer en aanspoor om weer ‘n keer te probeer of die goeie in ‘n situasie te sien eerder as die slegte. Om op te hou kla en my
seëninge te tel.

Een so mens was my vriend Ian Wessels, wat baie van julle sal ken as radiopersoonlikheid.

Ian is gistermiddag (19 April 2021) oorlede, en ek dra graag hierdie plasing aan hom op (met die toestemming van sy vrou Liesel).

Vandat ek en Ian op 1 September 2009 gaan koffie drink het vir ‘n rooi rose onderhoud, was ons groot vriende. Hy en Liesel het my en my kinders deur die jare nie net deur baie swaar tye ondersteun nie, maar ook baie bederf.
Ian was mal oor kosmaak en het fantasties gebraai. Hy was vir my kinders ‘n positiewe rolmodel, en die soort mens wat selfs vir my oudste – wat nie rooivleis eet nie – spesiaal hoender sou gaan koop en gaarmaak (al was sy
heeltemal tevrede om net te eet wat op die tafel is.)


En hy het ons – natuurlik – ook baie laat lag!

Maar Ian het ook ‘n filosofiese en baie gefokusde kant gehad, en dit was vir hom en Liesel baie belangrik om positief en voluit te leef. Radio was sy passie, maar hy was ook ‘n lewensafrigter en motiveringspreker wat dit sy missie gemaak het om ander te inspireer.

Toe ek ongeveer twee maande gelede deur Lux Verbi gevra word om iemand te kry om ‘n “shout” vir my boek se voor- en agterblad te skryf, was Ian een van drie mense aan wie ek dadelik gedink het. (Die ander twee was my
mede-boekliefhebber Phyllis Green van SARIE, en Martie Pansegrouw, die redakteur van rooi rose, saam met wie ek vyftien wonderlike jare gewerk het.)

Ian het veerkragtigheid gelééf en deur die jare talle kursusse bygewoon wat direk of indirek daaroor gehandel het. Hy was ook ‘n lewensafrigter en motiveringspreker, en natuurlik het hy my ook goed geken. Maar die eintlike
rede hoekom ek hom gevra het, was die ongelooflike voorbeeld wat hy die afgelope byna twee jaar gestel het met sy stryd teen pankreaskanker. Hy het nooit oor sy siekte gekla nie, en nooit hoop verloor nie.

So maand gelede het hy vir die eerste keer in ‘n WhatsApp genoem dat hy swak voel, en toe het ek geweet hy is regtig baie, baie siek.

Maar terug na die “shouts”. Tipies Ian het hy vir my twee geskryf – ‘n korter een wat op die boek se agterblad gebruik is, en hierdie langer een.

“Illie,” het hy geskryf, “redigeer na hartelus en gebruik soos jy goed dink vir bemarking.”

Vandag wil ek vir Ian baie dankie se. Nie net vir sy mooi bemarkingsmateriaal nie (boonop weet ek dit kom uit sy hart), maar ook vir sy vriendskap. Dankie vir al die “drinkiepoohs”, die wonderlike etes en spesiale Kersdae, vir die baie lag en ook vir hierdie getuienis uit jou eie lewe.

Dankie vir jou humor, jou wyse lewensraad, jou liefde en ondersteuning en vir daardie wonderlike gesegde van jou wat ek ook in die boek gebruik: “Opportunity only dances with those already on the dance floor.”

Rus sag, my vriend, en ons sal mooi kyk na jou “herfsbruid”.

Enkele dae voor verlede jaar se inperking het ek met Ian gesels vir my rooi rose podsending Tee en Taai Toffies. Hierin het hy vir die eerste keer bekend gemaak dat hy terminaal siek is, maar steeds het hy ander probeer inspireer. Luister hier na die gesprek:

Ian Wessels oor negatiewe mense en hoe om dankbaar te bly

Hier is Ian – wat terloops ook ‘n gesertifiseerde radio-advertensie kopieskrywer was – se bemarkingsteks oor Floreer. Min het ons in Februarie geweet dat ek dit sal gebruik om iets oor hom en sy manier van lewe te
vertel.

Dit is nou maar eenmaal ’n onbetwisbare lewenswaarheid dat nie een van ons kan kies wat met ons gebeur nie. Gelukkig is dit net so waar dat ons almal wel kan kies hoe ons daarop gaan reageer. Hierdie keuses verklaar
hoekom een persoon na ’n terugslag ’n wanhopige slagoffer bly en aanhou krepeer, terwyl ’n ander daarin slaag om iewers die veerkragtigheid vandaan te kry om op te staan en kort voor lank te floreer. Maar hoe kry hulle dit reg?


Floreer bevat die antwoord met ’n uitstekende kombinasie van raad deur die voorste kenners, alledaagse voorbeelde ter illustrasie en maklike praktiese wenke. Veerkragtigheid is soos ’n spier. Net soos jy elke dag moet eet en nie net een keer gym toe kan gaan en hoop om fiks te raak of ’n sixpack te kry nie, móét jy dit ’n gewoonte maak om jou veerkragtigheidspiere daagliks te oefen sodat dit as’t ware jou default setting raak. Dan kan jy nie anders as om te floreer nie. Maar hoe kan ek so seker wees?


Binne die bestek van ’n paar maande het my onversekerde huis saam met sy inhoud afgebrand, ek is met terminale pankreaskanker gediagnoseer (gelukkig darem net medies gesproke) en weens die pandemie is al my optredes gekanselleer. Nogal ’n gevoelige knou – finansieel, liggaamlik en emosioneel. Tog is ek vandag gelukkiger met meer vrede in my lewe as ooit voorheen – en dit is NIE omdat ek 60kg gewig verloor het nie! Die “terugslae” was eintlik ’n bedekte seën. Ek waardeer elke oomblik van elke dag nou soveel meer. Dit het my ook die geleentheid gebied om my lewe letterlik en figuurlik te springclean en dit wat ek in my motiveringspraatjies aanbeveel prakties op myself toe te pas om te sien of dit regtig werk. Nou kan niemand weer vir my sê ek kan maklik praat nie!


Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar dit bly onteenseglik waar dat geluk en vervulling eintlik niks te doen het met jou eksterne omstandighede nie. ’n Mens kry immers gelukkige en ongelukkige skatryk én brandarm mense – van
Hollywood tot in Muskietvlei. Baie van dit wat ek in verskeie kursusse geleer het en in my motiveringspraatjies deel, is ook vervat in Floreer.


Hier is enkele van die wenke wat die beste vir my gewerk het:
Kry perspektief. Daar is altyd iemand met wie dit beter gaan, én iemand met wie dit slegter gaan. Moenie vra hoekom dit met jou gebeur het nie. Sulke vrae laat jou dadelik in die doodloopstraat van ’n slagoffermentaliteit beland. Hoekom nié met jou nie? Moenie die aanvanklike emosies ontken nie. Beleef dit, maar moet ook nie toelaat dat dit van jou ’n smartvraat maak nie. Begin anders daaroor dink en praat anders met jouself. Vra liewer vrae soos wat jy kan doen om die gevolge te oorkom en jou lewe weer stap vir stap op koers te kry. Lees Floreer deur en maak notas op die bladsye agter in die boek.

Maak veerkragtigheid ’n gewoonte. Die maklikste manier om dit te doen is om vir jou ’n daaglikse ritueel te kry. Probeer om dit elke dag op dieselfde tyd te volg – verkieslik eerste ding in die oggend. So begin jy jou dag op die beste moontlike manier en jy kry moed en momentum vir die uitdagings wat voorlê.

Vind uit wat die beste vir jou werk. Begin bv. jou rukkie eietyd met ’n paar strekoefeninge om die nag se styfheid ’n bietjie te verdryf. Lees dan iets opbouend en inspirerend. Dit kan ’n boek wees, ’n artikel met raad, of iemand
se inspirasieblog. Daar is hope gratis materiaal op die internet beskikbaar. Maak Tannie Google jou beste vriendin en moenie van YouTube vergeet nie. Die Ted Talks is net 20 minute lank en bevat ’n opsomming van kenners se
beste advies. Hou ’n dankbaarheidsjoernaal en maak jou doenlysie vir die dag. Wat kan jy vandag prakties doen om jou situasie te vebeter – al is dit net een klein dingetjie – en jou veerkragtigheidspiere gym toe te stuur?

Vermy smartvrate. Baie mense bedoel dit oënskynlik goed, maar hulle bejammering lei meestal tot jou eie kringloop van selfbejammering waarmee jy jouself net saboteer. Omring jouself liewer met mense wat al self uitdagings oorkom het. Die energie wat hulle uitstraal sal jóú ook nuwe energie gee. Of jy nou glo jy kan, of jy kan níé, jy is reg. Onthou, net jyself kan jou eie attitude verander, so kweek ’n ek-weet-ek kan ingesteldheid.

Máák tyd vir jouself – al moet jy ’n halfuur vroeër opstaan. Goed begonne is half gewonne. Bly in hierdie eietyd weg van sosiale media, koerante en e-posse en beperk dit oor die algemeen soveel as moontlik. Dit wemel van
negatiwiteit en fopnuus en steel net jou broodnodige lewensvreugde.

Leef in die oomblik. Gister is verby en jy kan niks daaraan verander nie. More is nog nie hier nie en as jy more opstaan, noem jy dit weer “vandag.” Nóú is eintlik al wat bestaan. Die enigste manier om more beter te maak is
om die meeste van vandag te maak. Gebruik dus elke oomblik ten volle.

Doen dit ter wille van jouself. Jy is nie geskape om te krepeer nie. Ons almal kan meer veerkragtigheid kweek wat ons sal help om te floreer. Jy sal dit wat jy nodig het binne jouself vind. Floreer sal jou wys hoe.