Ouderdom bring wysheid, maar dit beteken nie jy hoef op te hou leef nie. Vier inspirerende mense vertel hoe hulle die ouderdom beleef. Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Pexels

Oud word (floreer)

Wilma de Bruin (63), joernalis en mediakonsultant

Daar is min posisies wat Wilma de Bruin, bekende vryskutjoernalis, nog nie in haar 43 jaar in die mediabedryf beklee het nie: van koerantverslaggewer, tydskrifjoernalis, sub-redakteur, vertaler en redakteur tot publisiteitsbeampte vir 12 Suid-Afrikaanse rolprente, onder meer die ikoniese The Gods Must be Crazy. Sy was ook medestigter van die Pendoring-reklametoekennings en was 14 jaar lank by die toekennings betrokke. Wilma is deur die jare al verskeie kere vir haar werk bekroon, en skryf nog gereeld vir ’n paar publikasies. 

Op 63 is sy steeds die toonbeeld van georganiseerdheid, lewenslus en ’n gesonde belangstelling in die wêreld om haar. Sy is steeds in aanvraag by talle publikasies en van permanent aftree, is daar nie sprake nie. 

“Dit bly vir my opwindend en stimulerend om oor besielende mense, mooi plekke en aktuele dinge te skryf.” 

En, sê Wilma, jy moet nooit dink jy is te oud om te leer nie! “Maar met die mediawêreld wat besig is om ingrypend te verander en jong en dinamiese talent- volles wat die mark toenemend betree, moet jy besef daar gaan ’n tyd kom om terug te staan.”

Sy sê sy dink nie juis oor die jare nie. “Ouderdom is ’n kopding. Dit pla my nie om ouer te word nie, ek probeer doodgewoon my lewe soos altyd leef. Ek zoom ook nie in op wat dalk om die hoek lê en wag nie, en ook nie op die plooie, velvlekke en groter rondings wat mettertyd kom nie. Dié verdoesel jy maar na jou beste vermoë.” 

Sy het haar vyftigste én sestigste verjaarsdag “dawerend gevier”, en sal ook haar sewentigste vier “as ek dit gegun word en nog gesond genoeg is. Elke dekade is ’n mylpaal, stof tot dankbaarheid dat jy meer kon beleef en ervaar”. 

Leef sy anders as toe sy jonger was? “Nee, ek benader die lewe eintlik maar nes toe ek in my dertiger- en veertigerjare was: ek werk hard, kuier graag saam met my gesin en vriende, lees baie en luister aandagtig. Ek wil graag op die hoogte van sake bly, en ek en my man, Rudi, geniet dit om saans oor die nuus van die dag te gesels en menings uit te ruil. Hy is ook vir my ’n goeie klankbord.” 

Haar kleinkinders help ook om haar jonk te hou. “Dis straks die wonderlikste kompensasie van die ouderdom: om saam met hulle mylpale in húl lewe te kan beleef is goud werd.” 

Sy is wel “deeglik bewus” van verganklikheid en van die genade van goeie gesondheid. 

“Ek besef maar alte goed dat alles in ’n breukdeel van ’n sekonde kan verander. Daarom probeer ek die tyd benut wat my gegun word. Ek geniet dit om saam met my vriendinne te kuier, en is lid van ’n aktiewe, sosiale stokvel van vier wat onsself – oud ofte nie – die Darling Daisies noem. Ons het ook ’n lekker vriendekring wat daarvan hou om saam te kuier, naweke saam weg te breek of saam vakansie te hou.” 

Wilma glo dis belangrik om aktief te bly. “Ek het eers laat in my lewe begin tennis speel, maar geniet dit nog baie. Ek speel weliswaar in die ‘huisvroueliga’ maar dis lekker oefening sonder dat ek stokflou word. Ek stap ook graag, so twee, drie keer per week, en het vir my ’n klompie roetes met ’n paar stywe opdraan-des in die omgewing uitgewerk. Dit help om die skarniere geolie te hou en die kop skoon.” 

Wanneer sy nie werk nie, maak sy graag koffietafelfotoboeke, wat ook sommer ’n manier is om haar duisende foto’s te orden en uit te stal. Sy vroetel ook graag in haar groot tuin, en musiek en reis is nóg groot liefdes. 

Het sy ’n motto? “Carpe diem! En vergewe, vergeet en gaan voort met die lewe. Ek fokus op die positiewe en hou my met inspirerende, motiverende dinge besig. En vermy negatiewe mense en situasies wat jou onnodig sinies maak en nutteloos laat voel.” 

Wouter de Wet (74), omroeper en musiekkenner

Wouter het as skoolseun in die destydse Suidwes-Afrika net een begeerte gehad: om klassieke musiekprogramme op radio aan te bied. Nou, meer as vyf dekades later, leef hy steeds hierdie droom uit. 

Wouter het ná ’n graad in radiowese aan die Universiteit van Kaapstad by die SAUK aangesluit en sedertdien by verskeie radiostasies gewerk. Toe hy by Beeld gewerk het, het hy deeltyds uitgesaai. Ons het ook baie jare na sy radio-kommentaar vanaf Wimbledon geluister. 

Die ATKV het hom verlede jaar vir sy lewensbydrae tot die uitsaaiwese vereer. 

Hy vertel laggend dat hy ná sy aftrede ’n maand lank by die huis gebly het. “Ek het alles gedoen wat ek gedink het ek wil doen, soos om na al my CD’s te luister, die boeke te lees waarvoor daar nooit tyd was nie en om my kaste reg te pak. Maar ná ’n maand was ek só verveeld. Toe gaan vra ek vir Terrance April, programbestuurder by RSG, of ek net iets daar kan kom doen.”

Hy het aanvanklik dokumentêre programme en musiekreekse vir RSG gemaak, en toe is hy gevra om U Eie Keuse en Klassieke Keuse aan te bied. “Dit was só ’n groot eer. U Eie Keuse is reeds sedert 1945 op die lug – ek het dit altyd saam met my ouma geluister, en dis waar my belangstelling in radio begin het.” 

Sedert 2010 bied Wouter Dis Opera aan en volgens Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG, is daar min mense met Wouter se musiekkennis en kundigheid. 

Wouter het tot twee jaar gelede nog ligatennis gespeel maar ná ’n rugoperasie opgehou. Hy mis nie sommer ’n tenniswedstryd op TV nie en het verlede jaar weer op Wimbledon gaan tennis kyk. Rugby is nog ’n groot liefde, vertel die “hartstogtelike Blou Bul”. 

Hoe hou hy sy kop jonk?

“Ek dink ek het dit by my ma geërf. Sy was ’n sterk vrou, positief, en iemand wat vir my baie terloopse lessies geleer het, soos om vir alles tyd te maak. Ek lees baie en geniet veral biografieë en outobiografieë, oorsese operatydskrifte en John Grisham se boeke.” 

Wouter en sy jare lange vriendin Verna Vels en hul vriend Bill Sharp het tot kort voor haar dood elke Vrydagoggend ’n kunsfliek gaan kyk. Hy reis ook graag en sou hierdie Pase weer die Salzburgse Musiek-fees bywoon. 

“Ek was ook al dikwels in New York, net vir die teaters – elke middag ’n ander Broadway-vertoning, en saans is dit opera.” 

Wouter het al longkanker en baie intensiewe chemoterapie oorleef. “Dit was baie erg, maar gelukkig vee jou geheue mos die negatiewe dele uit. Nou is ek al nege jaar jubelend in remissie!” Sy benadering tot beproewinge is eenvoudig: “Just get over it.” Hy glo goeie gene speel ’n rol, maar dat jou ingesteldheid bepaal hoe jy oud word. 

Die res skryf hy toe aan “genade, goeie gewoontes en matigheid in alles”. 

Is daar iets van die moderne era wat hom koud laat? “Sosiale media. Ek kan nie gebodder wees nie. Ek lees veel eerder ’n boek en luister musiek.” 

Margaret Golding (84), opvoedingspesialis op die gebied van outisme

Toe Margaret in 1969 haar posbus in Kaapstad oopmaak, was daar ’n brief wat haar wêreldwyd gevolg het: van die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad na Londen, waar sy ’n onderwyseres was, na Zambië, waar sy ná haar tweede troue gaan woon het, en terug na Kaap-stad, waarheen sy en haar gesin toe verhuis het. 

Die brief was van dr. Vera Bührmann, ’n bekende kindersielkundige, wat wou hoor of Margaret kans gesien het om ’n skool vir ses outistiese kinders in Kaapstad te begin. 

So het eers die Vera-skool vir Outiste in Kaapstad (1970) en die Unica-skool vir Outiste in Pretoria (1981) ontstaan. Nou, 46 jaar ná daardie brief, word Margaret steeds beskou as een van die wêreldkenners oor outisme, ’n toestand waaroor daar steeds meer vrae as antwoorde bestaan. 

Ons ontmoet mekaar op haar drie weke lange besoek aan die hoofkantoor van Outisme SA in Johannesburg. Hierna gaan sy KwaZulu-Natal toe vir werk daar. Sy reis ook oorsee vir haar werk, en was in 2013 een van die hoofsprekers op ’n internasionale konferensie in Koeweit oor outisme. Sy lei ouers en onderwysers op in verskeie aspekte van outisme, onder meer die Makaton-program wat ontwikkel is om met outiste te kommunikeer. “Ek móét werk, want die nood is so groot!” 

Sy werk minstens sewe maande van die jaar, en sê dit help ook om haar karige pensioen aan te vul. “Omdat ek ’n Brit is en uitgesproke oor apartheid, het die destydse regering gesorg dat ek nooit ’n permanente aanstelling as skoolhoof kry nie. Ek het dus nie voordele soos pensioen nie.” 

Hoewel sy ’n opgeleide sielkundige is, is sy in haar hart ’n onderwyseres. “Dit gaan vir my oor die kinders en hul spesiale behoeftes. Ek werk ook gratis wanneer daar werklik nood is.” 

Margaret het die lyf en skynbaar ook die stamina van iemand veertig jaar jonger as sy. “Ek het my lewe lank daaraan geglo om fiks te bly. Ek swem daagliks as ek kan, ook wanneer ek reis, en doen die afgelope veertig jaar elke dag joga. Dis belangrik om regdeur jou lewe na jou gesondheid om te sien. Niks werk reg as jy oud is nie, maar benut dit wat jy het. Ek is lief vir groen groente, maar eet nie vrugte nie, en ek gooi olyfolie oor byna alles wat ek eet – ek glo dit help baie om my gesond te hou. Ek vermy koring en suiwel, want dit akkordeer nie met my nie.” 

Balans is vir haar belangrik. “Die behoeftes van kinders soos dié kan jou dreineer en daarom het ek nog altyd seker gemaak dat ek ’n lewe buite my werk het. Ek is mal oor kos en kook graag, en is dol op die teater. Gereelde kort vakansies is noodsaaklik, want wanneer jy net heeltyd werk, raak jy al onproduktiewer – al werk jy hoe hard.” 

Margaret het vier kinders grootgemaak: twee biologiese kinders en twee stiefkinders. “Al vier is my kinders en is baie onder-steunend. Hulle deel ook my passie vir my werk.” 

Sy skryf haar op en wakker geaardheid toe aan ’n paar dinge. “Dalk is dit gene, want my een ouma het 94 geword. Ek glo ’n sin vir humor help ook – ek is vrolik en positief gebore, en sien nog altyd die blink kant van alles raak. Dis net hoe ek is. Onthou ook: aftrede beteken nie jy moet ophou leef nie.” 

Haar lewe was nie altyd maklik nie, maar ook hieroor is sy filosofies. 

“Jy vat die lewe soos dit kom. As jy kan aanvaar wat met jou gebeur, kan jy ook onverwagse dinge makliker hanteer. Moenie daaroor tob nie – gaan net aan.” 

Dié ingesteldheid het waarskynlik baie gehelp toe sy ’n paar jaar gelede op die strand inVishoek, waar sy woon, aangeval en byna doodgewurg is. Haar hart is weens die suurstoftekort permanent beskadig. “Aanvanklik was ek woedend oor wat met my gebeur het, tot ek besef het dat ek gelukkig is om te leef.” 

Sy het ná die aanval terapie gekry en vermy glad nie die strand nie. “Ek is nou net baie meer bewus van wat om my aangaan.” 

Hannatjie Van der Wat (92), skilder

Dis nie almal wat reuse- moderne skilderye kan skilder nie. Tog is dit presies wat Hannatjie op negentig nog vir haar laaste groot uitstalling gedoen het. 

As skilder was sy haar tyd ver vooruit. In ’n tyd toe min vroue verder studeer het, het Hannatjie kuns kom studeer in Johannesburg, wêrelde verwyder van haar grootwordjare op die familieplaas naby Greylingstad. Ná haar opleiding aan die Johannesburg School of Art, het sy ’n ruk lank skoolgehou voordat sy in 1948 met Koos van der Wat, ’n ginekoloog, getroud is. Hulle het drie kinders: Marianne Fassler, die bekende mode-ontwerper, en haar tweelingbroer Johan, ook ’n ginekoloog. Kosie, die jongste, is ’n oogkundige. 

Haar werk was deurentyd in groot aanvraag onder kuns-kenners en galerye. Plaaslike eer was daar min, maar die Brasiliaanse Akademie vir Skone Kunste het haar in 1994 vereer met ’n Honoris Causa en in 1997 met ’n Grande Medalha da Honora, hul hoogste eerbewys. 

“Man, jy moet jou nie doodskrik vir ouderdom nie. Dis net ’n getal,” vertel sy oor ’n keurige middagete wat sy voorberei het. “Ek dink nie oor ouderdom nie en praat nie daaroor nie. Ek dink net aan wat ek nog alles vandag moet doen. Dís die geheim van aktief wees as jy ouer word: stel elke dag vir jou doelwitte.” 

Haar lewe is interessant, daarvoor sorg sy. “Ons kinders woon naby ons en loer daagliks in. Ek is ook geseën met wonderlike kleinkinders en agterkleinkinders, en het heelwat vriendinne, baie van hulle jonger as ek. Jy is baas van jou lewe en as jy eensaam is wanneer jy oud is, dink ek jy het ’n groot aandeel daarin. 

“Koos glo ook aan ’n aktiewe lewe en het tot twee jaar gelede – op negentig – nog weekliks vir Johan met operasies bygestaan. Ons was nie bang vir aftree nie, maar hoekom sal jy net rondsit? Jy kan ook net soveel reis, want eintlik is jou huis die nukleus van jou bestaan. Ons het besluit om net hier te bly waar ons al woon vandat die kinders klein is. Jy is op jou gelukkigste binne die versorgende kring van jou familie en in jou eie ruimte. As ons versorging nodig het, sal ons iemand aanstel wat ons hier kan versorg.” 

Sy het ook onlangs met weeklikse gimnasiumsessies begin. “Dis ontwikkel vir ouer mense soos ek, en ek geniet dit vreeslik.”

’n Dag of wat voor ons onderhoud het sy haar versameling dokumentasie en korrespondensie aan die Universiteit van Pretoria oorhandig. Deeglik soos sy is, het sy alles uitsorteer. “Nou weet ek my kinders gaan nie daardie moeilike taak hê nie.” 

Sy het nie veel erg aan televisie nie – “daar is in elk geval altyd iets om te doen” – maar noudat Koos daagliks by die huis is, kyk sy soms ’n fliek saam met hom. “Ons lees elke dag koerant en lees graag boeke. Ek is nie ’n enkele oomblik verveeld nie. Ek skilder nie baie op die oomblik nie, want ek het so baie goed wat my besig hou. Die bonus is dat jy saans doodmoeg in die bed klim en lekker slaap – sonder ’n slaappil.” 

Hannatjie is filosofies oor die ouderdom. 

“Om oud te word is nie ’n straf nie. Dis ’n geweldige voorreg, ’n seën. Gebruik jou tyd. Kry ’n plan vir elke dag. Gee van jouself – hoe meer jy gee, hoe meer gaan jy ontvang.” 

Sy weeg nog dieselfde as toe sy 67 jaar gelede getroud is. “Ons hou van vrugte en groente en het nooit ’n oormaat vleis geëet nie. Ek drink nie wyn nie, en eet ook nie tussenin nie. Ek dink dit gaan maar oor balans.” 

Sy glo aan ’n positiewe lewenshouding. “Almal se lewe bestaan mos maar uit ’n hooggety én ’n laaggety, en ons het moeilike dae en hartseer beleef. Maar as ek terugkyk, is ons so geseënd. Ek vrees niks – dit beteken nie ek dink nooit aan die toekoms en dit wat wag nie, maar wat sal dit help om bang te wees?” 

Geloof maak die lewe vir haar makliker. “Elke skip moet ’n anker hê. Dan gaan min dinge regtig ver- keerd, en kan jy makliker aanvaar wat oor jou pad kom.”

* Dié artikel het oorspronklik op 12 Julie 2016 op www.rooirose.co.za verskyn