Vanoggend lees ek Jana Marx se baie interessante artikel op Netwerk 24 oor “pandemievoosheid”. Lees dit gerus hier. Ek dink dit waaroor Jana skryf, is iets waarmee almal van ons kan assosieer. Jy “voel” net anders as voor woorde soos Covid en inperking en vaksiene deel van ons daaglikse woordeskat geword het. Jy kan nie heeltemal jou vinger daarop sit nie, maar tog… iets in jou is nie lekker nie.

Weet maar net: jy is nie alleen nie, en ook nie weird nie. Daar is ‘n wetenskaplike naam en verduidelikings vir hierdie verskynsel wat kenners kwyning/lewensvoosheid/afgeremdheid noem. (In Engels is dit “languishing”). Volgens Jana se artikel is kwyning “die emosionele punt tussen  depressie en florering”. 

Dit maak vir my 100% sin. Ook die beskrywing van ‘n die Amerikaanse sielkundige en skrywer Adam Grant waarna Jana verwys. Hy sê baie mense ervaar ‘n “vreugdelose en doellose leegheid”, en dat jy voel of jy “deur ‘n toegewasemde venster na jou lewe kyk”. 

As jy vandag so voel, lees asseblief Jana se artikel vir ‘n paar antwoorde. Maar gaan kyk asseblief ook na my en Phyllis Green se vier gesprekke vir SARIE.

Veerkragtig met SARIE I: Wat is veerkragtigheid?

Veerkragtig met SARIE II: Die invloed van dankbaarheid op jou veerkragtigheid

Veerkragtig met SARIE III: Stres en veerkragtigheid

Veerkragtig met SARIE IV: Praktiese wenke om veerkragtigheid aan te leer

Dis regtig die moeite werd, en ek glo ons spreek baie van die dinge waarmee jy tans sukkel (weens die pandemie en die gevolge daarvan) in hierdie gesprekke aan. Jy kan dit luister ook terwyl jy daar by jou lessenaar sit of in die tuin of huis werskaf. Of maak ‘n okkasie daarvan en nooi ‘n paar  vriendinne vir koek en tee, en kyk dit saam. Ons weet nie noodwendig altyd wie rondom ons gaan deur ‘n moeilike tyd nie. 

En koop asseblief my boek en pas die wenke daarin toe – ek het ‘n klomp navorsing gedoen en die beste moontlike raad van verskeie mense in die boek versamel, en praktiese voorbeelde gegee van hoe mens hierdie moeilike tye kan oorleef. Agterin die boek is daar ook ‘n werkboek-gedeelte waar jy kan notas maak en planne kan uitwerk om te begin floreer. Die idee is dat jy die boek met ‘n potlood in die hand moet lees, en dalk selfs weer herlees as jy deur ‘n moeilike tyd gaan (want ons almal weet mos nou al die lewe is vol oppe en affe, en dat hierdie nie die eerste of laaste moeilike tyd is wat ons gaan beleef nie). 

Floreer deur Ilse Salzwedel

Terloops, ek gee regtig nie om as vriendinne of familie FLOREER saam koop en met mekaar deel nie – ek weet dit is moeilike ekonomiese tye vir ons almal. Maar ek vra mooi (namens ALLE skrywers): moet dit asseblief nie onwettig op die internet aflaai nie. Dan steel jy van ons en ons uitgewers, en jy kan boonop strafregtelik vevolg word vir die oortreding van die kopieregwet.

Jy kan FLOREER! En saam kan ons maak dat hierdie pandemie ‘n draaipunt word vir ons gesinne, gemeenskappe en land. Want as óns floreer, gaan die wêreld rondom ons ook noodwendig floreer. 

Voorspoed, vrede en vreugde vir jou. Onthou: this too shall pass.