Sifan Hassan is een van die wêreld se top-atlete, maar selfs top-atlete kan val. Dit het vandeesweek met hierdie Nederlandse atleet gebeur tydens ‘n wedloop by die Olimpiese Spele. Met net 380 meter van die laaste rondte van die 1500m-wedloop oor, het ‘n atleet voor Hassan geval, wat haar ook laat neerslaan het. Die feit dat sy opgestaan en verder gehardloop het, is al klaar merkwaardig. Dat sy boonop gewen het, het die wêreld aan die gons gehad. Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Instagram (@olympics)

Sifan Hassan

Hassan se wedloop het my laat dink aan die ou gesegde dat dit nie saak maak hoeveel keer mens val nie, maar hoeveel keer mens opstaan en weer probeer. As sy bly lê het, sou sy nie gewen het nie. Trouens, sy sou nie eers die wedloop voltooi het nie. 

Haar merkwaardige wedloop illustreer ‘n klomp beginsels waaroor ek skryf in Floreer. Hierdie videogreep is ‘n perfekte opsomming van die eienskappe van veerkragtige mense. Hulle is: 

GEFOKUS EN REALISTIES: Hassan was realisties oor haar vermoëns, en het geweet sy sal die wedloop kan voltooi. Die belangrikste was om op te spring en verder te hardloop. Daar was nie op daardie oomblik tyd vir huil, rondkyk of kla nie. Dit sou eers moes wag. Die belangrikste was om net so gou moontlik weer te fokus. 

KAN HUL SITUASIE ONTLEED: Hassan het nie veel tyd gehad om haar situasie te analiseer nie. Sy moes blitsvinnig en instinktief besluit. Die lewe werk ook dikwels so. Voorafgemaakte planne loop skeef, en daar is nie tyd om eers te gaan sit en nadink oor alles nie. Jy moet jou situasie kan analiseer en as’t ware so in die hardloop besluit wat jy volgende wil doen.  

IS HUL EIE CHEERLEADERS: Ja, die toeskouers het Hassan waarskynlik aangemoedig om op te staan en verder te hardloop, maar sy het nie eers ‘n rukkie bly lê en daarvoor gewag nie. In hierdie moeilike tye waarin ons tans is, is daar – net soos by die Olimpiese Spele – min toeskouers. En die wat daar is, is in dieselfde bootjie as ons. Hulle word ook geraak deur die pandemie, die slegte ekonomie, die inperkings en al die stres wat hierdie dinge meebring. Hulle het dikwels kwalik krag vir hul eie probleme, en wil beslis niks van ander mense s’n weet nie. 

HULLE DOEN EERDER AS OM TE KLA: Hassan kon verder hardloop en red wat te redde is, of sy kon bly lê en na die tyd kla oor hoe sleg en onregverdig dit was. Wie onthou daardie 1984-wedloop waar Mary Decker agter Zola Budd gehardloop en geval het?


Goed, Decker het haar heup beseer toe sy geval het, maar dis haar gedrag na die tyd wat ‘n suur smaak gelaat het. Dis ‘n beginsel in atletiek dat die atleet wat agter hardloop, nie die voorste atleet blameer wanneer hy of sy val nie. Maar Decker het na die tyd vir Budd blameer (wat voor gehardloop het) al het baanbeamptes Zola se aanvanklike diskwalifikasie binne ‘n uur opgehef nadat die video gewys het sy was nie te blameer nie. Dit was bloot ‘n ongeluk.
Decker se tirade was nie net die begin van die einde vir Zola se atletiekloopbaan nie – sy was al reeds onder baie druk, en om die wêreld se mees gehate atleet te wees, het nie veel gehelp nie. Boonop word Decker se vele prestasies op die atletiekbaan na byna vier dekades steeds oorskadu deur daardie onaangename voorval.  Google maar as jy my nie glo nie. Sou ons hoegenaamd haar naam onthou het as dit nie vir daardie val was nie?
Vergelyk dit nou met wat Hassan gedoen het. Sy het gekies om verder te hardloop, al was om te wen dalk nie eers op daardie oomblik deel van haar planne nie. Die lewe werk ook so: soms moet ons net aanhou hardloop. Die wenpaal is nader as wat jy dink, en dikwels is jou poging goed genoeg vir ‘n groot beloning by die eindstreep. Moenie jou energie mors op kla of blameer nie. 

HULLE VERTROU HULSELF EN HUL VERMOËNS: Het jy al opgelet na daardie mense wat eenvoudig voortbeur, al slaan die storms van die lewe hulle ook keer op keer plat? Hassan illustreer ook hierdie punt baie goed. Sy het geweet sy kan die wedloop voltooi. Sy was goed genoeg, en het goed genoeg voorberei. Sy het haarself vertrou en nie eers gewag vir iemand om haar “toestemming” te gee om te doen wat sy geweet het gedoen moes word nie. 

HULLE PAS HUL PERSPEKTIEF AAN AS DINGE VERANDER: Ek is nie ‘n atleet nie, maar ek het al gehoor atlete vertel dat hulle die wedloop voor die tyd visualiseer en “beplan”. Hoe om teen ‘n sekere tyd in die wedloop by ‘n sekere draai te wees, waar om in watter baan te hardloop, presies wanneer om weg te breek van die “pack” wat saam aan die wedloop deelneem… Maar as jy val, verander al daardie dinge, en jy kort nuwe perspektief en nuwe planne. Die lewe werk presies dieselfde. 

HULLE VRA NIE HOEKOM NIE, MAAR HOE:  Ek het al met so baie mense onderhoude gedoen wat ten spyte van groot trauma of tragedie opgestaan het en weer probeer het. Die een ding wat hulle almal gemeen het, is hierdie eienskap: niemand het gevra hoekom dit met hulle gebeur nie, maar hoe hulle daarmee kan saamleef en aanbeweeg. 

MEER OOR FLOREER: Die boek se titel kon netsowel OORLEEF gewees het. Ek het dit geskryf vir tye soos hierdie, en glo my as ek vir jou sê ek het al die raad in hierdie boek self geleef, en moet myself gereeld daaraan herinner! En nee, ek het dit nie vanuit ‘n posisie van gemak en met ‘n ryk man aan my sy gedoen nie. Ek is al 14 jaar ‘n enkelma nadat ek geskei is van ‘n alkoholis. Ek en my kinders ken swaarkry en hartseer (my ouers het kort na mekaar gesterf kort nadat ek geskei is). Finasieël gesproke was daar baie slapelose nagte – ek was tot baie onlangs ‘n vryskutjoernalis met geen gewaarborgde maandelikse inkomste nie. En tog, hier is ons nog steeds!

Jy kan ook! In Floreer deel ek ware verhale van hoop en inspirasie en baie praktiese raad (deur kenners soos sielkundiges en dokters) oor hoe om hierdie woeste en onseker tye te oorleef én te floreer, ten spyte van jou probleme en omstandighede. 

Floreer deur Ilse Salzwedel
Floreer, uitgegee deur Lux Verbi (NB Uitgewers)

As jy sukkel om ‘n kopie van Floreer in jou dorp te kry, kan jy aanlyn bestel van Graffiti

Of bestel ‘n getekende eksemplaar by my teen R200 per eksemplaar plus R100 koerierkoste. (Stuur ‘n epos aan ilsesalzwedel@gmail.com)

Groete en sterkte! Onthou, this too shall pass!