Elsje Neethling, Olimpiese swemmer Ryk Neethling se suster, veg al langer as twee dekades teen kanker, maar van moed opgee, is daar nie sprake nie. Sy kies eerder om die sonkant van die lewe raak te sien. Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Instagram (@neethlingfull)

Elsje Neethling floreer

Elsje Neethling is kleiner en fyner as wat ek gedink het. Dalk het ek gedink sy moet groter wees omdat sy al soveel jaar so dapper – en uitgesproke – teen kanker veg.

“Ek is waarskynlik met ’n breingewas gebore en het met pyn grootgeword,” vertel sy, asof dit maar die verloop van die lewe is. “Maar omdat ek hiperaktief is, kon ek nooit stil genoeg lê vir breinskanderings nie. Daarom is die gewas eers gediagnoseer toe ek dertien was. Daar was wel vroeër talle tekens dat dinge nie pluis is nie. Ek het al hoe sieker, maerder en naarder geword.”

Toe volg die hoofpyne en balansprobleme, en toe, op 16 Januarie 1992, word sy wakker en sy kan nie loop of sien nie. Die diagnose was verpletterend: choroïed pleksus karsinoom, ’n baie seldsame en aggressiewe breingewas.

“Destyds was daar net vier mense in die wêreld wat die gewas gehad het, en niemand het dit oorleef nie.” Dokters het voorspel sy gaan net twee maande leef.

Dis nou 25 jaar en elf spinale operasies later, en sy leef steeds. Uitbundig, glimlaggend, al leef sy daagliks met pyn en sit meestal in ’n rolstoel. Maar, erken sy, ná elke operasie herstel sy ’n bietjie moeiliker. “Jy verloor elke keer iets wat jou menswees aantas. Maar ek is steeds volkome vrou, en opgewonde om te kan leef.”

Sy lag met haar oë toe sy vertel hoe “liries” sy kan raak wanneer sy soggens wakker word. “Man, oor enigiets, selfs net my oggendkoffie. Enige dag wat ek nie in die hospitaal wakker word nie, is ’n goeie dag!”

Kort voor ons onderhoud is sy weer onverwags geopereer, dié keer om ’n nie-kwaadaardige gewas aan haar voet te verwyder. Daarna mag sy twee maande lank glad nie geloop het nie.

Sy woon deesdae in haar ouers se woonstel op Hermanus, en geniet dié nuwe hoofstuk in haar lewe. Sy laat net nie toe dat die pyn en ongemak haar onderkry nie. Sy woon boonop alleen, vir die eerste keer in haar lewe ver weg van ma San-Marie en pa Ryk. “Ek het ’n paar maande gelede Kaap toe getrek, en vir die eerste ruk het ek in ’n woonstel reg langs Groentemarkplein in Kaapstad gewoon. Maar Kaapstad was net te besig en ’n bietjie te loud.” Vir ’n gebore en getoë Vrystater is dit ’n heerlikheid om in ’n woonstel met ’n see-uitsig te woon, skaars honderd meter van waar die branders breek. “Daardie heel eerste aand het die branders vir my soos onweer geklink. Ek is mal oor die Kaap en wou nog altyd hier bly.”

Hermanus is ’n heerlike plek met wonderlike mense. ’n Bietjie soos Bloemfontein by die see, skerts sy. Sy voel heel tuis daar. “Daar is soveel kreatiwiteit en kunstenaars. Ek ontmoet sulke interessante mense, en dit gee my energie. Daar het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan.”

Om finansieel te oorleef verkoop sy haar kralewerk op kunsmarkte. Sulke tipiese Elsje-skeppings: uniek en kleurryk. Anders. Want niks aan haar is gewoon of vaal nie. Van haar besonderse blou oë tot die kleurryke krale om haar fyn polse en die wit bloes met die bont borduurwerk wat sy tydens ons onderhoud aanhet. Sy het dié bloes op ’n vakansie in Mexiko gekoop. Daar was sy so betower deur die sangeres Frida Kahlo se huis dat sy haar skip verpas het.

“Ek was maar nog altyd my ma se hippiekind,” vertel sy. Ouboet Ryk, Olimpiese swemmer en deesdae sakeman (sy noem hom Rykie), en haar laatlamsussie, Jean-Marié, ’n regsgeleerde in Ierland, is ernstiger, meer gefokus.

“Ek is die wild child, die een met die blomme in die hare. Toe Rykie verlede jaar gevra is om my op ’n radioprogram voor te stel, het hy gelag en gesê: ‘she’s colourful, she talks a lot, and did I mention she’s colourful?’

“Ek pimp tot my krukke op met vlaggies en lapblomme uit Mexiko.”

Elsje het haarself in 2008 leer kralewerk doen toe sy weer lank in die hospitaal was. Haar vriende het krale aangedra en gehoop dit sal haar kop en hande besig hou. Toe begin die verpleegpersoneel van haar krale koop. “Sommer so van die drip stand af,” onthou sy. Nou gee dit vir haar ’n klein inkomste, wat hoofsaaklik maar vir haar mediese fonds betaal. Haar familie help met die res. “Sonder hulle sou ek nie hierdeur kon kom nie.”

Haar ouers waak langs haar hospitaalbed met elke operasie of terugslag, en sy vertel opgewonde dat hulle dit ook oorweeg om volgende jaar Kaap toe te trek. “My ma-hulle is wonderlik. Hulle wil net hê ek moet gelukkig wees,” sê sy, en vertel van die keer ná ’n operasie toe haar verligte ma gesê het: “My kind, jy kan nou maar ’n tatoe op jou voorkop kry vir al wat ek omgee.”

Dis juis by haar ma wat sy die kreatiewe gene gekry het. Op skool het sy kuns as vak geneem, en van kleins af was dit dramaklasse, kunswedstryde en dansklasse. Sy het graag agter die skerms by SUKOVS gaan werk en aan die agtergrondtonele help verf. Ensaam met Tobie Cronje in The Wizard of Oz gespeel, verklap sy terloops.

“Ek was ’n regte drama-queen en entertainer. Ek het heeltyd konsert gehou met die arme Jean-Marié, haar opge-dress en oral saamgesleep.” Hulle al drie het geswem. “Maar ná swem was dit dansklas of iets – ek het sommer so in die kar my leotard aangetrek,” onthou sy.

Ma en dogter het albei joernalistiek studeer, en Elsje het tien jaar as joernalis gewerk. As student het sy ook so ’n bietjie by Radio Puk uitgesaai. Sy het saam met die veteraanskrywer Maretha Maartens ’n boek oor haar kankerstryd geskryf. “Ek is besig met nog ’n boek, en het ook ’n kinderboek geskryf, gemik op siek kinders.”

Haar ouers duik gereeld in ons gesprek op. “Hulle het ons aan so baie dinge en plekke en ander kulture blootgestel. Ek was seker so elf toe ek vir die eerste keer oorsee is, Spanje toe. Ek het my aan alles vergaap. My ouers het ons gelowig grootgemaak, en geleer om nooit op ander neer te sien nie.”

Elsje se kanker is die afgelope twee jaar in remissie. “Maar dit los jou nooit regtig nie,” sê sy.

“Dinge is so goed of sleg soos jou laaste skandering.” Vir die eerste keer lig haar vrolike masker. Haar oë versluier vir ’n oomblik. Maar toe is die vrolike geesdrif terug. “Dinge is so goed of sleg soos jou laaste skandering.”

“Ek leef voluit tussen skanderings – ek put myself soms skoon uit. Ek glo ’n mens moet die beste van die lewe maak. Anders gaan die kanker jou kom haal. Of wat dit ook al is wat jou vreugde steel. Ons het mos maar almal iets.”

In 1997 het haar kanker skoonveld verdwyn. ’n Wonderwerk, volgens die medici. “Die Here het my genees,” verklaar sy, kort en kragtig. Sy het steeds elke jaar pligsgetrou vir haar skanderings gegaan, en in 2007 het die kanker weer toegeslaan, hierdie keer in haar stuitjie. “Dit was ’n gróót skok,” erken sy. Waarskynlik nog meer omdat sy toe op trou gestaan het. Hulle is getroud, maar ongelukkig het die huwelik nie gehou nie.

Maar Elsje Neethling laat nie toe dat enigiets – kanker of egskeiding – haar onderkry nie. Al lyk sy geensins siek of gestremd waar sy oorkant my aan die tafel sit nie, beteken dit glad nie dat haar pad tot hier toe maklik was nie.

“In 2015, ná nog ’n operasie, het dokters nie veel hoop gehad dat ek sal herstel nie. Ek moes selfs vir ’n lang ruk na ’n rehabilitasiekliniek gaan.” Om in ’n rolstoel te wees, bring allerhande komplikasies. Sy vertel van die geleidelike verlies van normale liggaamsfunksies, soos haar linkerbeen wat heeltemal verlam is, en die keer toe sy ’n tweede reeks bestralings op dieselfde plek moes kry om te keer dat die kanker versprei. “Dit word nie sommer gedoen nie, en ek was nogal ontsteld daaroor. Toe vra die dokter reguit: ‘wil jy dan eerder doodgaan?’ So, om in ’n rolstoel te wees is vir my ’n troosprys, nie ’n doodsvonnis nie. Dis oukei, al is dit nie vir almal om my altyd oukei nie.”

Sy kan nog met krukke oor die weg kom – “jis, ek kan nogal lekker vinnig loop met my krukke, hoor!” – maar soms sukkel sy met haar balans, en boonop is sy gedeeltelik blind in haar linkeroog, wat dinge verder kompliseer. “Ek voel veiliger in ’n rolstoel, en beweeg makliker.” Die rolstoel het nadele, soos mense wat dink haar IK is aangetas. “Party praat selfs harder en stadiger, asof ek doof en dom is,” sê sy op haar reguit manier. Maar dit het darem voordele ook, skerts sy. “Ek kry altyd die beste parkering! En dis ’n trekpleister vir interessante mense.”

“Ek kry altyd die beste parkering! En dis ’n trekpleister vir interessante mense.”

Sy glo die Here het haar met ’n doel in ’n rolstoel laat beland. “Ek het in overdrive geleef voor ek siek geword het. Ek wou 48 uur se lewe in elke dag inpas, skoon bang ek mis iets. Ek dink Hy wou hê ek moet ’n bietjie stadiger leef, en stop om die rose te ruik.” En daar is dalk nog ’n ander rede, dink sy: “Gestremdes is sitting ducks vir boelies en skurke en mense met vooroordele. Maar gelukkig is ek mos nou nie op my mond geval nie, en ’n vegter teen ongeregtigheid.”

Haar kankerpad het haar empatie gegee vir ander wat swaarkry. “Iets gebeur met jou as jy ’n gebrek ontwikkel, ’n soort geestelike bewustheid. Ek voel ander se pyn aan.” Sy is juis die naweek van ons onderhoud in Pretoria om ’n vriend wat aan MNS ly te kom bemoedig. “Ons rol maar so saam,” skerts sy. Dis ook hoekom sy selfs deur haar eie kankerstryd probeer het om ander te bemagtig. So het sy vir kankerlyers by staatshospitale klasse in kralewerk gegee. Maar ja, dit was hartseer elke keer wanneer een van die vroue nie opdaag vir ’n klas nie en sy moet hoor sy is intussen oorlede. “Dit was elke keer ’n realiteits-check, iets wat ’n mens herinner aan dit waarteen jy stry.”

Sy doen wat gedoen moet word om so gesond moontlik te bly en te stry teen die agteruitgang wat die kanker meebring. So het sy twee jaar lank elke dag twee kilometer geswem by haar ma se swemklub. “Ek eet ook baie gesond, baie slaaie en gestoomde groente en so aan, en gebruik ’n ingevoerde voedselaanvulling.” Sy het gedurig pyn, en beproef alles wat dalk verligting sal bring. “Fisio, akupunktuur, wat ook al. Maar dis maar ’n progressiewe agteruitgang … ”

Wat hou haar gemotiveerd om aan te hou veg? “Humor, kuns, krale, lag … Ek kies vreugde. Ek wil lewe, ek wil uitgaan, goeie koffie gaan drink iewers. Maar natuurlik kry ek my afdae. Ek sien dit soos ’n spoedhobbel op my feespad.

Die Here hou my positief. Ek praat honderde kere op ’n dag met Hom. Alles is Sy genade.” “Die Here hou my positief. Ek praat honderde kere op ’n dag met Hom. Alles is Sy genade.”

Haar mantra is eenvoudig: “Worry less, pray more. As my lewe een mens gehelp het, moet ek glo dit was alles die moeite werd.” En, sê sy doodernstig voor ons groet, sy wil tog net nie eendag voor haar Skepper staan en sê sy het ’n vervelige lewe gelei nie. Maar daaroor hoef sy haar nie te bekommer nie. ’n Week of twee ná ons onderhoud lees ek in ’n dagblad sy het haar eerste les in branderplankry gehad in die golwe by Muizenberg, danksy Adaptive Surfing South Africa, ’n vereniging vir branderplankryers met gebreke. Vrywilligers het haar touwys gemaak, en sy het haar gate uit geniet, agterstevoor duikpak of te not, volgens haar facebook-inskrywing. “How to spot a Free Stater on a surfboard: wetsuit wrong way around. Wahaaaahaaa! As jy nie meer vir jouself kan lag nie, nè.” Tipies Elsje was daar geen keer aan haar in die water nie. “Ek het op my eie begin paddle. Hulle het vir my gesê ‘you paddle like a demon’.” Sy het dit selfs reggekry om op haar hurke op die branderplank te sit.

“Dit was asof ek vlerke gekry het.”

Jy kan Elsje se pragtige krale aanlyn bestel by hip-e.co.za

* Dié artikel het oorspronklik op 9 November 2017 op www.rooirose.co.za verskyn