Hoe Covid ons vriendskappe gesnoei het, en hoekom dit dalk goed is. Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Pexels

As daar een ding is wat die lewe my geleer het sedert Covid-19 die wêreld tot stilstand gebring het verlede jaar, is dit dat mens vriende kry, en vriende. En daarmee heg ek glad nie ‘n waarde aan sekere mense se karakter of persoonlikheid nie. Ek probeer bloot sê dat inperking en die pandemie ook ‘n invloed gehad het op ons sosiale kringe. 

Onthou jy daardie dol pre-pandemie-era waarin ons dagboeke vol was en ons huise leeg? Ons was mos selde tuis, immer aan die jaag iewers heen. Nou is dit net mooi andersom. Ons huise is vol met almal wat van die huis af werk en studeer, en ons dagboeke is – behalwe nou vir die magdom Zoom-vergaderings wat ons base dink ons nodig het – basies leeg.

PC (pre-Covid) het ons saam met kollegas, vriende en kennisse oor koffie, ‘n drankie of ‘n bord kos geklets. Ons selfone was vol nommers van mense wat ons deur die loop van ons daaglikse lewe ontmoet het en soms (of dikwels) mee kontak gemaak het. Boodskappe het nie net vir werksredes heen en weer gevlieg op WhatsApp nie – ons het grappies en stukkies van ons lewens gedeel met baie mense wat ons eintlik – as ons moet eerlik wees – kwalik geken het. Ons was besig, besig, besig…

Toe kom Covid, daardie eerste streng inperking en later minder streng inperkings. Party mense het jy maande laas – dalk selfs ‘n jaar of meer – laas gesien. Julle WhatsApp nie meer nie. Selfs die likes op facebook en Instagram raak al hoe minder. En, om eerlik te wees, jy dink nooit meer aan hulle nie.

Ontspan, dis ‘n goeie ding, en allermins iets waaroor jy skuldig hoef te voel. 

Dr. Sheldon Cohen, ‘n professor in sielkunde aan die Carnegie-Mellon Universiteit in die VSA, het sy lewe lank ‘n studie gemaak van die verband tussen sosiale bande en gesondheid en het nog altyd gemeen dat die handhawing van sosiale verhoudings goed is vir mens. Tog, skryf Kate Murphy in ‘n artikel getiteld The Pandemic Shrank Our Social Circles. Let’s Keep It That Way in die New York Times, het Cohen met die aanbreek van inperking besluit om die 800 name op sy selfoon in groepe in te deel ten einde ‘n “kortlys” te maak van die 50 mense met wie hy gereeld in kontak wou wees. 

Cohen se manier om te besluit wie gaan ‘n oproep of ‘n boodskap kry, en van wie se radar af hy gaan verdwyn tydens inperking, was sy manier om te besluit watter plek mense in sy lewe beklee en hoeveel aandag elkeen verdien. 

Dit klank dalk nogal erg berekend, maar het ons nie maar almal op ‘n manier dieselfde gedoen nie? En is dit werklik so erg? 

Murphy skryf: “The past year has forced a mass meditation on the nature and strength of our social ties. While our culture has encouraged us to accumulate friends, both on- and offline, like points, the pandemic has laid bare the distinction between quantity and quality of connections. There are those we’ve longed to see and those it’s been a relief not to see. The full reckoning will become apparent only when we can once again safely gather and invitations are — or are not — extended. Our social lives and social selves may never be the same.” 

Die inperking het ons almal tot stilstand geruk. Vir my was dit in sommige opsigte ‘n verligting om vir drie weke as’t ware van die radar af te verdwyn, agter my hek en mure, net met my kinders en ons troeteldiere. Ek was sat gejaag agter afsprake en werk en verpligtinge aan, en nou kon ek alle afsprake kanselleer sonder om sleg te voel. Toegegee, ek is van nature iemand wat heel lekker op my eie funksioneer, en nogal vinnig uitgekuier kan raak met skares mense. Ek is vriendelik met baie mense, en het nog altyd goeie persoonlike bande gehandhaaf met diegene wat ek deur my verskillende vryskutwerke leer ken het, maar iewers in die laaste paar jaar se dolle gejaag het die behoefte al hoe groter geword om iewers op ‘n verlate eiland te gaan woon. 

Covid het daardie eiland verskaf – in die gerief van my eie huis. Daar was weer tyd om behoorlik met my kinders te gesels, om my hond se kop te vryf en met my kat op my skoot te sit. Ek en my twee  kinders (19 en 22) het saam kos gemaak, in die tuin gevroetel, soms ons etes op die stoep geëet, saam televisie gekyk… Kortom, ons verhouding het verdiep, en dit was ‘n kosbare tyd van afsondering wat ek nie gou sal vergeet nie.  

Ek het beperkte sosiale kontak gehad – my buurvrou (‘n weduwee) kan nie bestuur nie en ek het haar soms saamgeneem winkel toe. ‘n Vriendin wat in die straatblok agter my woon, het my gevra om betrokke te raak by ‘n projek wat behoeftige mense met warm etes en ander noodsaaklikhede gehelp het tydens die streng inperking, en ek het haar soms gesien vir ‘n paar woorde as ek goed daar gaan aflaai het. Ons vriendskap het mettertyd verdiep, deels omdat ek diep geraak was deur haar en haar man se onselfsugtige hulp aan mense wat hulle nie eers geken het nie. Dit het my met ander oë na haar laat kyk, juis omdat die wêreld daardie tyd so vol woede en klagtes was van mense wat gevoel het hulle is ingeperk. 

Ek het ook steeds in WhatsAppgroepe en per e-pos met my verskillende kollegas gekommunikeer. Ons het aan projekte gewerk, uitgevra oor mekaar se gesinne, gesels oor wat op die spyskaarte is, wat mense aanvang met al die tyd tot hulle beskikking. Maar ek het nooit ‘n begeerte gevoel om ‘n Zoom-partytjie by te woon en elke dag ‘n virtuele glas wyn (of in my geval, ‘n koppie koffie) saam met ‘n vriendin te drink nie.

Ja, ek het vir naaste vriende en familie WhatsApp’s gestuur, en ons het mekaar gebel en rustige gesprekke gevoer (onthou jy dit nog? Dis wat mense gedoen het voor sosiale media en WhatsApp ons lewens begin domineer.)

Ek het geen idee hoeveel kontakte ek op my foon het nie – dalk ook ‘n paar honderd. Tog is die kontak wat ek met ‘n handvol mense gehandhaaf het sedert Maart 2020, vir my meer as voldoende. Dit voel vir my of my verhouding met die wat nog in my lewe is, baie verdiep het, en of ek minder “angstig” is oor mense se verwagtinge van my. (Of mense regtig verwagtinge van my gehad het of het, is natuurlik debateerbaar – dalk het ek my dit net verbeel.) Voel ons nie maar almal by tye verplig om sosiale uitnodigings te aanvaar van mense met wie ons eintlik min in gemeen het nie? 

Soos Murphy dit tereg stel in haar artikel: “Ours has been an era defined by divisiveness, narcissism, frantic busyness and an epidemic of loneliness. The social isolation imposed by Covid-19 has exposed the shortcomings of individualism, incessant striving, superficiality and can’t-talk-now-text-me-later lifestyles.” Ek mis niks van die lewe wat sy hier beskryf nie, en wil dit regtig nooit weer deel van my lewe maak nie.

As jy ook heel gelukkig is met die minder-maar-hegter-vriende-situasie, sal jy bly wees om te lees wat Murphy skryf dat die evolusionere sielkundige, Robin Dunbar, se navorsing bewys dat die mens eintlik net die kognitiewe kapasiteit het om vier tot ses vriende te hê.  En daardie vriende, skryf sy, is gewoonlik die mense wat William Rawlins, ‘n emeritus-professor in interpersoonlike kommunikasie verbonde aan die Ohio Universiteit, beskryf as mense wat soortgelyke verwagtings aan ons eie het. “We want those who are there for us, who listen without judgment and understand what we’re going through. They may not agree with us, but they get us.”

Om die moeilike tye waarin ons is suksesvol en sonder stres te kan navigeer, is goeie vriende van uiterste belang. Ons elkeen kort ‘n “tribe” – mense wat in ons hoekie is, wat ons kan moed inpraat, maar meer nog, wat ons kan laat lag, ons arms kan hoog hou. Binne in ons naaste sirkel moet daar mense wees wat ons liefhet (en wat ons kan liefhe) en wat sin gee aan ons bestaan. Al woon hulle dalk nie by jou nie, is hulle ‘n oproep of ‘n WhatsApp of ‘n e-pos ver. Geen hoeveelheid likes op sosiale media kan hierdie mense se regte, tasbare liefde en ondersteuning vervang nie. 

Wat ons nie nodig het nie, is toksiese mense. Of mense wat jou energie steel. Of mense wat eintlik net ‘n kontak op ‘n selfoon is.

Moet dus nie eers sleg voel oor al die mense wat jy die afgelope jaar stilweg langs die pad verloor het nie. Dis waarskynlik beter so. Omring jou eerder met regte positiewe mense van vlees-en-bloed wat werklik vir jou omgee – sulke vriende (en familie) gee ons krag om weer op te staan, ongeag watter krisis ons tref. 

*Lees Murphy se artikel hier.

En hier is ook ‘n interessante artikel oor dieselfde tema deur Alex Williams.