Die aktrise Hanna Grobler straal van geluk sedert die geboorte van hul baba aan die begin van die 2017. Deur: Ilse Salzwedel. Hooffoto: Instagram (@hannagrobler)

Hanna Grobler floreer

Twee jaar gelede (2015) sou Hanna Grobler haar eerste voorbladartikel as nuwe ma met rooi rose gedoen het. Toe gebeur die ondenkbare: haar babaseuntjie word in die agtste maand van haar swangerskap dood gebore. Professioneel soos sy is, het Hanna steeds op ons voorblad verskyn, al was haar hart waarskynlik stukkend. Eerder as om enigsins oor die tragedie te praat, het sy gekies om lesers te inspireer deur oor haar geloof en welsynsprojek, die Hanna Charity and Empowerment Foundation, se werk in arm Gautengse woonbuurte te praat.

Die Hanna wat vandag oorkant my sit, straal van geluk en lewensvreugde. Sy kan nie uitgepraat raak oor haar baba nie. Sy is getroud met die sanger Bok van Blerk, en die egpaar het nog altyd moeite gedoen om hul persoonlike lewe uit die kollig te hou. Daarom maak dit sin dat hulle ook hul kind uit die openbare oog wil hou, in so ’n mate dat hulle nie eens die baba se geslag bekend wil maak nie.

Tog het Hanna geen aanmoediging nodig om oor moederskap te praat nie. “Ouerskap is die wonderlikste ding wat met my gebeur het. Ek is seker ek maak die mense om my ’n bietjie mal, maar ek is deesdae regtig passievol oor moederskap. Ek moedig almal wat ek ken aan om kinders te hê. In die vermaaklikheidsbedryf stel mense ouerskap maklik uit omdat hulle op die volgende groot rol wag, maar ’n baba is ’n wonderwerk, die grootste geskenk wat jy van God kan kry. Niks op aarde maak méér saak as dit nie.”

“’n Baba is ’n wonderwerk, die grootste geskenk wat jy van God kan kry. Niks op aarde maak méér saak as dit nie.”

Juis daarom het sy besluit om vir die volgende jaar of twee net ma te wees. “Ek het nog altyd genoeg rolle gekry en my liefdadigheidsorganisasie hou my baie besig. Maar vir eers wil ek al my tyd en aandag aan my kind gee.”

En ja, lag sy, al die clichés oor ma-wees is waar. “Dis regtig ’n lewensveranderende ervaring. Dis wonderlik, maar terselfdertyd ook ’n bietjie vreesaanjaend.”

Haar oë blink wanneer sy oor die kleinding praat. “Ek kan nie wag om die woord ‘mamma’ te hoor nie,” erken sy laggend, en vertel hoe geseënd sy voel om ’n baba te hê wat graag lag, en beslis ’n sin vir humor het.

Anders as met ons vorige onderhoud, maak Hanna hierdie keer wel haar hart ’n bietjie oop oor die traumatiese stilgeboorte van haar eersteling.

“Daar kon geen mediese rede vir sy dood gekry word nie. Dokters noem dit ‘an act of God’.” Sy erken dié wete het nie die vrees minder gemaak dat so iets ook met haar tweede swangerskap kon gebeur nie. Maar haar geloof, wat nog altyd vir haar ’n kosbare anker was, het haar deur al die vrees gedra.

“Elke keer as ek gevoel het die vrees bekruip my, het ek die teksvers onthou waar daar staan ‘The joy of the Lord is my strength’. Dan het ek bewustelik besluit om in Hom te rejoice. Ek het besef die duiwel wil my vreugde en vrede steel, en ek moes eenvoudig kies om weer my vreugde oor die swangerskap terug te neem. Ek het sommer hardop begin sing wanneer ek die angs voel naderkruip.”

“Elke keer as ek gevoel het die vrees bekruip my, het ek die teksvers onthou waar daar staan ‘The joy of the Lord is my strength’”

Nog ’n praktiese manier om die negatiewe gedagtes hok te slaan, was om elke dag tyd te maak om net rustig te gaan sit en na dieselfde gospel-CD te luister. “Dan kon ek die baba voel beweeg, en myself weer dwing om rustig te wees dat alles nog reg is, tot die volgende dag wanneer ek weer sou seker maak ek voel beweging. ‘N Mens moet maar vir jouself so ’n roetine uitwerk waarin jy ’n bietjie sekerheid kan kry, want anders sou ek myself sekerlik gek gemaak het.”

Al het dokters gesê daar was niks wat sy kon doen om haar eersteling se stilgeboorte te keer nie, het sy met hierdie swangerskap uit die staanspoor gesorg dat sy baie meer rus. “Ons moderne vroue word geleer dat ons voluit kan werk en allerhande ander balle in die lug kan hou wanneer jy verwag, maar ek dink nie ons liggame is gebou daarvoor nie. My raad aan swanger vroue is deesdae om dinge rustiger te vat.

“Moenie kanse waag terwyl jy swanger is nie, want niks is enige moontlike risiko vir jou ongebore baba werd nie”

Sy lag lekker toe sy vertel hoe verstrooid sy gedurende haar swangerskap was. “En ek, wat eintlik baie vredeliewend is, kon lekker kwaad word as iemand my parkeerplek vat! En was ek emosioneel! Ek het oor enigiets gehuil!”

Ons gesels draai na die uitdagings van moederskap.

“Ek het nie geweet ek kan met so min slaap klaarkom nie! Ek was nog altyd vreeslik lief vir slaap. Maar my ma het altyd gesê as ’n mens ’n kind het, is daar nie ’n pause-knoppie nie. Veral die begin was vir my nogal rof, maar ’n mens kom deur alles. Gelukkig is my natuurlike genadegawe diensbaarheid, en die bereidwilligheid om op te offer is deel van my persoonlikheid, wat dit sekerlik makliker maak. En as jy eers weer in daardie gesiggie kyk, vergeet jy van alles.”

Haar kind het haar reeds baie geleer, vertel Hanna. “As ek na ’n baba se hulpeloosheid kyk, verstaan ek vir die eerste keer regtig wat die Here bedoel het toe Hy gesê het ons moet soos kinders word. Ons behoort ons lewe heeltemal aan Hom oor te gee.”

Sy verwonder haar steeds oor die onvoorwaardelike liefde en vreugde oor alles wat sy daagliks by haar kind sien. “Dan kan ’n mens nie help om te wonder wat jy gedoen het om dit te verdien nie,” mymer sy.

Watter soort ma is sy? “My vriendinne sê ek is baie ontspanne. Ek is baie aanpasbaar en nie fanaties nie. Almal het mos altyd raad vir nuwe ma’s, en ek probeer alles. Maar as dit nie vir my of my kind werk nie, probeer ek iets anders. Ek sou sê ek is ’n baie instinktiewe ma.”

Sy het ook lankal daarmee vrede gemaak dat geen ouer alles kan reg doen nie. “’n Mens doen wat jy kan, en jy doen jou bes. Solank jy kan terugkyk en sê jy het regtig jou bes as ouer gedoen.”

Moederskap het haar ook nuwe respek vir haar eie ouers gegee. “Ek besef nou eers regtig hóé lief hulle vir ons is en wat hulle alles vir ons opgeoffer het.” “Ek besef nou eers regtig hóé lief hulle vir ons is en wat hulle alles vir ons opgeoffer het”

Dis vir Hanna belangrik om soveel moontlik self vir haar baba te doen. “Ek het nie ’n voltydse kinderversorger nie. Jou kinders bly in die eerste plek jóú verantwoordelikheid. Ek weet almal is nie in die gelukkige posisie wat ek is nie, maar vir my is dit hartseer dat party mense kinders kry en dan kies om hulle deur ander te laat grootmaak. Hoekom dan hoegenaamd ’n kind hê?”

Sy sien daarna uit om haar kind se persoonlikheid te leer ken. “My suster Welmarie is ouer as ek en reeds ma van twee. Sy sê ’n mens dink jou baba gaan soos jy wees, maar jy kry ’n eie mensie wat jy moet leer ken. Ek glo dis ons as ouers se verantwoordelikheid om ons kinders te help om te ontdek wie hulle is, en om hulle dan te help ontwikkel.”

Die besluit om haar kind uit die kollig te hou, was vir haar net logies. “Ek wil nie van my kind openbare besit maak nie, want dis nie my lewe nie en dus nie my besluit nie.”

En as sy moet opsom hoe moederskap haar as mens verander het? “’n Kind dwing jou uit die kunsmatige wêreld na ’n hiperwerklikheid. Ek het opnuut geleer dat jy moet stop om die spreekwoordelike rose langs jou lewenspad te ruik. Jy moet die klein goedjies geniet. Daar is soveel vreugde in eenvoudige goed.” Haar wense vir haar baba is eweneens eenvoudig: “Ek wil ’n kind grootmaak wat eendag ’n gelukkige, ordentlike grootmens gaan wees.”

* Dié artikel het oorspronklik op 7 Desember 2017 op www.rooirose.co.za verskyn