Stres is ’n normale deel van die alledaagse lewe, en ons almal ervaar dit in ’n mindere of meerdere mate. Maar pasop, chroniese hoë stresvlakke hou baie ernstige gesondheidsgevare in. Deur Ilse Salzwedel. Foto Pexels

Jy ken die gevoel: elke dag is net te kort vir wat jy alles moes doen. Om nie eens te praat van wat jy nog wóú doen nie. Jy het verantwoordelikhede tuis, verpligtinge by die werk/kerk/jou kind se skool, skuldgevoelens oor jou kinders. Voeg daarby die ure wat jy in spitsverkeer sit, jou bekommernis oor die verslegtende ekonomie en hoe stygende pryse jou beursie raak, die politieke situasie in die land, die hoë misdaadvlakke wat dalk al by jou of in jou vriendekring ’n letsel gelaat het … Die uiteinde? Hoër stresvlakke as waarvoor jou liggaam ontwerp is. 

Stres het suutjies in ons woordeskat en daaglikse lewe ingekruip. Volgens die Amerikaanse Sielkundevereniging ly 43% van alle volwassenes se gesondheid onder die newe-effekte van stres. ’n Yslike 75% tot 90% van Amerikaanse doktersbesoeke het met stres te doen, en stres word verbind met die ses hoofoorsake van dood in Amerika: hartsiektes, kanker, longkwale, ongelukke, lewer-sirrose (weens alkoholmisbruik) en selfdood. 

Die simptome van hoë stresvlakke het dalk al so ’n deel van jou daaglikse lewe geword dat jy dit nie eens meer agterkom nie: die hol kol op jou maag, die gedurige sooibrand, die spanningshoofpyne. Jy staan soggens moeg op, slaap sleg, voel dikwels angstig en sukkel om te konsentreer. Dalk is jou bloeddruk hoog, voel jy kortasem, of kry hartkloppings. Jy voel ongeorganiseerd, oorweldig en altyd gejaagd. 

Klink dit bekend? Maak dan werk daarvan – dis die vroeë waarskuwingstekens. Moenie wag vir ’n hartaanval of ineenstorting nie. 

Onthou ook dat jy dalk wel simptome van stres ervaar, maar dat dit onderdruk of gekamoefleer word deur jou gebruik van medikasie vir toestande soos hoë bloeddruk, maagsuur of migraine. Leefstylverandering is noodsaaklik as toestande soos maagsere, hoë bloeddruk, diabetes of hartprobleme by jou gediagnoseer word – en dit strek verder as net veranderinge aan jou dieet. 

Maar chroniese stres kan ook lei tot ’n toestand genaamd komplekse post-traumatiese stressindroom (KPTSD). Dit verskil van post-traumatiese stressindroom (PTSD), wat dikwels voorkom by polisielede en soldate wat herhaaldelik aan stresvolle of gevaarsituasies blootgestel is, of wat baie dood en verwoesting aanskou het en dan ineenstort of uitbrand. PTSD kan ook ná ’n enkele gebeurtenis gediagnoseer word, soos as jy moes toekyk hoe iemand vermoor word, of ná iets soos ’n verkragting of motorkaping. 

Komplekse PTSD is, soos die naam aandui, komplekser. Wanneer die toestand gediagnoseer word, was iemand gewoonlik blootgestel aan ’n kombinasie van chroniese stres en langtermyntrauma, soos mishandeling (emosioneel, fisiek of seksueel), huishoudelike geweld, of die versorging van ’n siek familielid. Die geliefdes van iemand met ’n verslawingsprobleem staan ook ’n groter kans om aan KPTSD te ly. 

Mense met KPTSD voel hulle kan nie ontsnap aan die slegte situasie waarin hulle hul bevind nie. Hulle sien geen uitkomkans nie. Linda Germishuizen, ’n Kaapse kliniese en bedryfsielkundige, sê mense wie se persoonlike grense nie gerespekteer word nie, is ook meer vatbaar vir KPTSD. En die slegte nuus vir ons SuidAfrikaners is dat ons land se hoë misdaadvlakke en die huidige ekonomiese situasie ook die ideale teelaarde vir KPTSD skep, juis weens die kombinasie van chroniese stres en trauma. 

“’n Eenvoudige voorbeeld is iets soos finansiële probleme, wat nou ook in middelklasgesinne kop uitsteek. Dit kan lei tot verbale uitbarstings en kwaai spanning tuis, wat chroniese stres en langtermyn- emosionele skade by veral kinders kan veroorsaak.” 

Dis belangrik om te onthou dat verskillende mense se toleransievlakke verskil. Iets wat jy maklik kan afskud, is vir iemand anders dalk ’n groot krisis. ’n Mens hoef nie noodwendig jare lank aan trauma blootgestel te wees voordat jy knak nie, en dit hoef ook nie noodwendig trauma soos dood of geweld te wees nie. Faktore wat jou weerstand aftakel (soos om te hard te werk sonder ’n goeie ruskans) saam met ander negatiewe faktore (soos jou baas se verbale uitbarstings) kan verwoestende nagevolge hê. Voel jy gedurig asof jy ’n hol kol op jou maag het, asof jy in trane wil uitbars, of asof iets slegs gaan gebeur? Dit kan ’n aanduiding van chroniese stres wees. 

En is jy ’n “sterk” mens? 

Pasop! KPTSD kom juis dikwels voor by mense wat geneig is om hul emosies te onderdruk of trauma bloot te hanteer sonder om ’n bohaai daaroor te maak. Die trauma bou as ’t ware laag-op-laag op en alles werk uiteindelik op mekaar in totdat dinge vir jou te veel word. Maak werk daarvan – gaan spreek jou huisdokter of ’n sielkundige. As dit nodig is, sal hulle jou na ’n psigiater verwys. 

Werkstres en uitbranding 

Ons bring die grootste deel van elke dag by die werk deur, en chroniese werkstres het ’n groot uitwerking op ons gesondheid, waarsku Linda. 

“Ons liggame is ontwerp om ’n klein bietjie stres op kort termyn te hanteer, nie chroniese stres nie. Elke stresvolle situasie veroorsaak ’n styging in ons adrenalienvlakke. Maar wanneer dit hoog bly oor ’n lang tyd, word hormone soos kortisol en DHEA vrygestel. Laasgenoemde is die sogenaamde moederhormoon wat noodsaaklik is vir gesonde vlakke van estrogeen, testosteroon en progesteroon. Dit wissel saam met ons stresvlakke, en help ons op kort termyn om deur die krisis te kom, maar op die lange duur is dit baie sleg vir jou liggaam. Oormatige kortisolafskeiding kan lei tot beenverlies, ’n verlaagde seksdrang, buierigheid, tipe 2- diabetes en gewigstoename.” 

Dit kan ook lei tot uitbranding. Volgens Linda bestaan uitbranding uit ses identifiseerbare fases. 

Waar val jy in hierdie ses? 

• Gedrewenheid: Jy is mal oor uitdagings, voel energiek en gejaagd, is produktief en werk lang ure. Jy het nie tyd vir gereelde oefening nie en jy het slegte eetgewoontes. 

• Jy sleep jouself voort: Jy het minder energie en begin jou dag met koffie. Jy leef van wegneemkosse en drink kafeïendrankies soos koffie en Coke om aan die gang te bly. Jy slaap sleg, sit gewig aan óf verloor jou eetlus. 

• Jy verloor dit: Jy is moeg en sukkel met slaaploosheid. Jy het baie gewig aangesit, smag na suikerige kos en drankies, en ’n drankie saans help jou om te ontspan. Fisieke simptome sluit angstigheid, kortasemheid, naarheid en duiseligheid in. 

• Jou gemoedstoestand versleg: Jy is buierig en voel soms depressief. Kalmeermiddels of antidepressante lyk na ’n goeie opsie. Jy het meer stimulante nodig om aan die gang te bly, maar dit takel jou stelsel net verder af. 

• Jy tref ’n muur: Familie en vriende is moeg vir jou klagtes. Jou gesondheidsprobleme word meer. Jy is vergeetagtig, jou konsentrasie swak en jy sukkel daagliks met migraine, ’n stywe nek, rugpyn, allergieë en slaaploosheid. Jy is gespanne, angstig en ’n bietjie bang, en jy sosialiseer feitlik nie meer nie. 

• Uitbranding: Jy is super geïrriteerd, sukkel om soggens op te staan en alles is moeite. Jy voel alleen en geïsoleerd en het belangstelling in alles verloor. Dit voel of jy maar net bestaan. Toestande soos hartprobleme, tipe 2-diabetes, kanker, depressie of ander ernstige toestande is dalk reeds by jou gediagnoseer. Gaan spreek dadelik jou huisdokter of ’n spesialis vir ’n volledige mediese ondersoek.

Kreatiwiteit kan stres omkeer 

“Ons lewe in ’n intellek-georiënteerde wêreld en probeer al ons probleme met ons verstand oplos,” verduidelik Linda. “Lysies met voor- en nadele het ’n plek. Maar om alles op te weeg en te ontleed kan net werk as jy elke enkele feit tot jou beskikking het. Met iets soos ’n moeilike persoonlike of werksituasie kan jy dit nie doen nie, want daar is te veel faktore waaroor jy geen beheer het nie. Jy gaan bloot verval in ’n negatiewe denkpatroon sonder ’n klinkklare oplossing.”

‘Omdat kreatiwiteit ’n vry-vloeiende aktiwiteit is, kry jou onderbewussyn as ’t ware kans om die oplossing uit te broei. Dit gebeur op ’n baie diep vlak wat jy glad nie met jou intellek kan beheer nie’ 

Gelukkig is daar raad. “Ons kan ons probleme dikwels goed verwerk deur regterbreinaktiwiteite. Met ander woorde, doen iets kreatiefs. Omdat dit ’n vryvloeiende aktiwiteit is, kry jou onderbewussyn as ’t ware kans om die oplossing uit te broei. Dit gebeur op ’n baie diep vlak wat jy glad nie met jou intellek kan beheer nie, en op ’n dag meld ’n oplossing hom net aan.” 

En moenie jou blind staar teen die woord “kreatiwiteit” nie – iets soos tuinmaak of kosmaak is ook ’n vorm van kreatiwiteit. “Of kies iets soos dans of tai chi, of gaan stap.” Tyd in die natuur kan ook help. Skakel gerus maar jou selfoon of tablet af – dit demp kreatiwiteit, maan Linda. 

“Leer om in die oomblik teenwoordig te wees. Al wat soms nodig is vir die oplossing vir ’n probleem, is om stil te wees. To be – ons vergeet ons is human beings, nie human doings nie.” 

Kontak Linda Germishuizen by 082 467 3214 of linda@psychmastery.co.za of besoek psychmastery.co.za Ander bronne: outofthefog.com; elementsbehavioralhealth.com; cic-learning.co.uk; psychcentral.com 

Die belangrikheid van persoonlike grense 

Linda beklemtoon die noodsaaklikheid van gesonde grense, en meen dis iets waarmee die meeste mense sukkel. Dit veroorsaak dat ons dikwels sukkel om “nee” te sê vir die eise wat ander mense (base, maar ook ons gesinne en vriende) aan ons stel. Dit lei tot ekstra spanning. 

Sy meen veral vroue sukkel met persoonlike grense omdat ons van kleins af geleer word om die vrede te bewaar en konflik te vermy. Die gevolg? Jy stel jouself laaste, probeer almal om jou red en word ander mense se vloerlap. 

“’n Mens hoor dikwels ’n vrou in ’n probleemhuwelik sê sy het van haar man se probleme geweet voor hulle getroud is, maar het gedink sy sal hom kan help om te verander.” 

Linda maan ook teen onnodige skuldgevoelens. “Ek sien dit veral by vroue, en baie daarvan spruit uit wat mense – of jyself – as jou ‘Christelike plig’ beskou. Staan op vir jouself, en luister na jou intuïsie. Moenie toelaat dat ander se stemme – die kerk, jou ouers of vriendinne – jou intuïsie doodpraat nie. Mense met ’n groot pligsbesef moet ook leer om genaakbaarder met hulself te wees.” 

Pasop ook maar vir sosiale media. Mense kan baie ongeskik wees op sosiale media, wat baie sleg is vir iemand wat sukkel om konflik te hanteer, “nee” te sê of haar man te staan. “Om gedurig blootgestel te wees aan ander se menings van jou, is ook glad nie gesond nie.” As jy boonop voel dat almal op facebook se lewe beter of lekkerder as jou eie is, ondermyn dit jou selfbeeld. Dit steel ook ongemerk ’n klomp tyd, wat jou nog meer oorweldig en onder druk kan laat voel. 

Praktiese wenke om persoonlike grense te versterk 

  1. Vra jou af of die situasie waarin jy is bevorderlik vir jou innerlike vrede is, of nie. As dit nie is nie, beëindig dit. 

2. Begin deur klein grense te stel. “Een manier is om op te hou redes gee vir iets wat jy nie wil doen nie – of dit nou ’n uitnodiging is of ’n versoek om met iets te help. Sê doodeenvoudig ‘ek kan ongelukkig nie’ – net dit. 

3. “Jy skuld niemand ’n verduideliking nie, behalwe jouself,” sê Linda. 

4. Gee jouself tyd om na te dink voordat jy op ’n versoek of uitnodiging reageer. Baie van ons is people pleasersvir wie dit moeilik is om “nee” te sê. “Moenie dadelik antwoord nie. Klein dingetjies soos hierdie kan jou help om meer selfgeldend te raak.” 

Meet jou stresvlakke 

Volgens Linda Germishuizen is hierdie vraelys uit Natural Highs deur Patrick Holford en dr. Hyla Cass ’n goeie manier om sommer jou stresvlakke te meet. 

Antwoord eerlik op die volgende 15 vrae. 

Merk elkeen wat op jou van toepassing is. 

• Sukkel jy om te ontspan? 

• Voel jy geïrriteerd? 

• Bekommer jy jou oor alledaagse goedjies en sukkel jy om af te skakel? 

• Rook of drink jy baie volgens ander mense se standaarde? 

• Is jy kompeterend en aggressief in wat jy doen? 

• Sukkel jy om met ander oor die weg te kom? 

• Is jy ongeduldig met ander? 

• Eet jy vinnig? 

• Pak jy te veel goed aan? 

• Sukkel jy om te delegeer? 

• Pyn jou ledemate, of sukkel jy gedurig met hoofpyne? 

• Het jy ’n droë mond en sweterige handpalms? 

• Het jy belangstelling in seks verloor? 

• Sukkel jy met stywe spiere? 

• Sukkel jy om te slaap? 

Wat jou telling sê?

0 – 5: Jy is op ’n goeie plek en kan alles hanteer wat jou kant toe kom. 

5-10: Jou stresvlakke is taamlik hoog. Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens. 10+: Jou stresvlakke is baie hoog, en jy moet dringend stappe doen voordat jou lyf sê genoeg is genoeg

* Dié artikel het oorspronklik op 17 September 2017 op www.rooirose.co.za verskyn