Ons is verknog aan ons selfone en tablette en skootrekenaars, maar dink nie eens aan die negatiewe gevolge van soveel digitale stimulasie nie. Digitale uitbranding is ’n besliste risiko, maar gelukkig kan jy dit keer. Deur Ilse Salzwedel. Foto’s: Pexels

Digitale detoks

Teen die einde van een spesifieke jaar was ek moeër as wat ek in jare was, vertel Ilse, wat haar eie digitale verslawing moes oorkom. 

Ek het soggens moeg opgestaan, gesukkel met konsentrasie en sleg geslaap. 

Ek het gesukkel om met aandag te lees, het altyd gejaagd en gespanne gevoel en saans kon my kop eenvoudig nie afskakel nie. 

Digitale detoks (moegheid)

Dit was erger as my normale einde-van-die-jaar moegheid, en ek het byna siek gevoel. Die eerste week van die Desembervakansie was ek noodgedwonge Internetloos weens swak selfoonseine, en dit was so rustig dat ek impulsief besluit het om die res van die vakansie ook ’n digitale blaaskans te neem. Ek was hartlik siek en salig sat vir my rekenaar en selfoon. Vir byna ’n volle maand het ek net die allernodigste op my rekenaar gedoen en net Kersdag en Nuwejaarsdag boodskappe op my facebook-muur geskryf. Nogal ’n groot verandering vir ’n serial-facebooker maar ek het my digitale afsondering terdeë geniet en so lank moontlik uitgerek. 

Ná ’n maand van digitale onthouding het ek uitgerus gevoel. 

Ek kon weer slaap en behoorlik konsentreer. Maar teen middel Februarie was ek weer moeg, geïrriteerd en aandagafleibaar. 

Facebook het my al hoe meer geïrriteer: die konstante stroom inligting, maar veral die aggressie, onverdraagsaamheid, selfgesentreerdheid en al die ongevraagde raad. Toe ek sewe jaar tevore by die wêreldwye facebook-klub aangesluit het, was ek ’n pas geskeide ma van twee klein kindertjies. Dit was afleiding, ’n manier om sosiaal te wees en in ander se lewe te deel in ’n tyd waarin ek weer my voete moes vind. Dit was ook ’n manier om te weet waaroor mense praat – ’n nuttige bron van idees vir artikels, en ’n manier om ingelig te bly oor wat in die wêreld aangaan. (So het ek myself altans oortuig – eers later het ek besef dit word FOMO genoem: the fear of missing out …) 

Digitale detoks (Facebook)

Toe ek by FB aangesluit het, was ek ’n betreklik onbekende joernalis, maar namate ek danksy my skryf- en radiowerk bekender geword het, het ek vriendskapsversoeke van al hoe meer mense gekry. Seker 99% van my uiteindelike meer as 2 500 “vriende” op facebook was liewe, dierbare mense met goeie bedoelings en ek het baie pret gehad. Maar tussendeur was daar die fruitcakes (my vriendin Sophia Kapp se kollektiewe benaming vir ongebalan-seerdes en wanaangepastes). Hulle was baie uitgesproke en het my aangeval en tereggewys oor alles – van my geloof in God tot my gewig. Ek het hope ongevraagde dieetraad gekry en gratis ongevraagde terapie deur verskeie kwasi-sielkundiges. 

Die groot uitbarsting het ook gekom: die keer toe ’n onskuldige opmerking oor my “kids” gelei het tot ’n stortvloed kritiek oor hoe ek as “openbare figuur” Afrikaans versaak, hoe ek my morele plig versuim om die taal te alle tye korrek te praat, hoe die taalkrisis “mense soos ek” se skuld is … Meer as drie honderd mense het kommentaar gelewer en al het meer mense my verdedig as gekritiseer, was ek seergemaak en ontnugter. Ek het myself nog nooit as “openbare figuur” gesien nie en wou ek regtig weet wat Sarie van Melville of Koos van Bellville van my (of my kinders, of my lyf, of my politiek) dink?

’n Reeks gebeure het daartoe gelei dat ek iewers ná middernag op 26 Februarie 2015 my FB-profiel delete het. Dit was uiters bevrydend, maar ook ’n bietjie intimiderend. 

Die volgende dag het twee goed gebeur wat ek nooit sal vergeet nie: ek het ’n artikel oor digitale uitbranding gelees, en ’n vriend van my ouderdom is onverwags dood. Ek kon nie ophou dink aan hoe graag sy gesin hom sou wou terughê nie, en ek het besef hoe baie van my eie lewe, emosies en tyd ek gemors het in ’n virtuele wêreld terwyl ek die vlees-en-bloed mense in my lewe dalk onbedoeld en onbewustelik afgeskeep het. 

Ek het ook besef dat ek beslis aan digitale uitbranding gely het. Ek het nie net vir my werk my dae aanlyn bestee nie, maar ook op die Internet sosiaal verkeer. Al die tekens was daar: die gebrekkige konsentrasie, moegheid, geïrriteerdheid, die Weltschmerz wat my telkens wou onderkry wanneer ek lees van al die tragedies, oorloë en gerugte van oorloë. 

Die eerste week het my hande in ledige oomblikke outomaties na my selfoon gesoek om te lees wat op facebook aangaan – seker maar soos iemand wat ophou rook se hande na sigarette begin soek. 

Maar ek het vasgebyt, en ná ’n paar dae was my energievlakke en konsentrasie beter, ek het weer diep en rustig geslaap, en ek het weer met oorgawe (en met my gewone lees-spoed) gelees. 

Dis nou 18 maande later, en ek mis facebook glad nie. Ja, ek dink soms aan van my FB-vriende (en het nog kontak met van hulle) maar nee, ek is toe nie eensamer/minder ingelig/uit voeling met mense nie. Ek bly op die outydse manier op die hoogte van alles wat ek moet weet: ek lees daaroor (in koerante, tydskrifte en boeke), praat met (regte) mense en luister radio. My Weltschmerz het gewyk, en ek is my ou, positiewe self. 

Onlangs het ek Twitter meer aktief begin gebruik, maar baie oordeelkundiger as FB. Ek volg net meningsvormers en nuusbronne, en bly weg van persoonlike interaksie (en deel geen persoonlike inligting of foto’s nie). Ja, die versoeking is steeds daar om te verdwyn in al die inligting en nuttelose afleiding wat in die kuberruim beskikbaar is, maar ek het my les geleer. 

Hoekom detoks? 

Dis nie net sosiale media wat ons digitaal uitput nie, maar ook die feit dat ons heeldag op rekenaars werk en deur ons selfone permanent vir almal bereikbaar is.

Levi Felix en sy lewensmaat Brooke Dean is die stigters van Digital Detox ®, ’n Amerikaanse organisasie wat daarop fokus om mense te help om die houvas van digitale toestelle op hul lewe te verbreek. Hul leuse en missie is Disconnect to Reconnect®, en deur hul baie gewilde Camp Grounded, ’n somerkamp vir grootmense, help hulle Amerikaners om presies dit te doen. Niemand mag enige digitale toestelle bring nie, en jy mag glad nie oor jou werk praat of eens jou regte naam noem nie! Die idee is om mense weer te leer om met ander te praat (en regtig te luister en oogkontak te maak sonder om vir jou selfoon te kyk!) en op gewone, outydse maniere te leer ontspan. Buitemuurse aktiwiteite, kampvuurkuiers, dans, saamsing, joga, sterre kyk, swem en meditasie is ’n paar maniere. 

Felix sê die doel is nie om jou te leer om sonder digitale toestelle te leef nie – dit het gekom om te bly en is ’n noodsaaklike euwel. Maar jy moet leer om dit te beheer in plaas van andersom.

Digitale detoks: hoe en hoekom?

Hier is praktiese raad uit verskillende bronne 

• Skakel alle toestelle af vir ’n aand of dag per week. Ek doen dit Sondae en selfs Saterdagaande. 

• Bêre jou foon wanneer jy by vriende kuier, en gesels! 

• Skakel jou foon se klank af wanneer jy kan – dit maak dit reeds rustiger. As dit veilig is, ook snags. 

• Jy hoef ook nie elke oproep dadelik te antwoord nie – ’n selfoon moet jou meer vryheid gee, nie minder nie. 

• Moenie e-posse na jou foon herlei nie. Ek doen dit al vyf jaar lank nie meer nie, en het nog nooit iets belangriks heeltemal misgeloop nie. As iemand jou werklik dringend soek, sal hulle bel. Ek het in ’n noodgeval wel toegang tot my e-pos. 

• Moenie speletjies op jou foon speel nie. 

• Vermy enige aanlynbedrywigheid vir minstens twee uur voor slaaptyd en jy sal beter slaap. (Onthou die melatonien!) 

• Moenie aan WhatsApp-groepe behoort as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Mute ’n groep wat irriterend is, maar as jy ’n goeie rede het om wel daaraan te behoort. Maak reëls vir sulke groepe en vra mense om dit te respekteer (soos oor die ure waarin boodskappe gestuur mag word). 

• Sit ’n bepaalde tyd elke dag opsy vir die lees van e-posse. Elke keer wanneer jy jou werk onderbreek om ’n epos te lees, vat dit ’n minuut of twee om weer aan die werk te kom. Jy verloor baie tyd én konsentrasie. 

• Moenie van jou foon af by facebook inskakel nie, of teken ná elke sessie af. Wanneer jy elke keer weer moet inteken, sal jy ook minder geneig wees om uit verveling daarop rond te hang. 

• Wanneer iets aan jou eie Internetgebruik jou ongemaklik maak, luister na die stem-metjie en verander jou gedrag. 

• As jy voel jy bestee te veel tyd aanlyn, gebeur dit waarskynlik. Kry ander stokperdjies. Lees, brei, hekel, doen blokkiesraai-sels, werk in jou tuin, gesels met jou kinders/man/vrou.

* Dié artikel het oorspronklik op 21 Oktober 2016 op www.rooirose.co.za verskyn