Die opgewekte stem van RSG se Amore Bekker bring smiddae ’n bietjie joligheid in ons huise en die motors van mat motoriste in. Maar is sy regtig so vrolik soos sy klink? En wat is die geheim van daardie lewensblyheid? Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Instagram (@amore.bekker)

Jy wéét sommer wanneer Amore Bekker in die SAUK-gebou is om te kom voorberei vir haar middagskof op radio. Jy hoor haar voor jy haar sien, maar meer as dit: daar is ’n positiewe energie en ’n vrolikheid waar sy haar ook al bevind. “Ek het ’n bietjie van ’n vrolike disposisie,” bieg sy. 

Nie dat sy laf is nie, allermins. Oor haar werk as aanbieder van Tjailatyd, een van RSG se gewildste programme, is sy doodernstig. 

As sy nie agter die mikrofoon is nie, sal jy haar waarskynlik agter haar rekenaar kry, besig om te soek na stories en inligting wat haar luisteraars kan vermaak én bemagtig. 

Amore is ernstig daaroor dat mense moet lééf en nie net bestaan nie. 

Op byna 49 is sy vietser, vroliker en gewilder as ooit. Wat is haar geheim? 

Dis beslis nie ’n nuwe man nie, vertel sy. “Mense se groot wens is mos om in ’n verhouding te wees. Almal soek mos die ridder op die wit perd, maar dis makliker om enkellopend te wees. Die afgelope paar jaar het ek besef dat die groot liefde eintlik jyself is.” 

Jy moet jouself eers uitpluis om werklik gelukkig te wees, glo sy. “Al jou lesse gebeur in verhoudings. Verhoudings is die lewe in fast forward.” 

Sy kyk deesdae anders na die lewe, vertel sy. Ja, die dood van haar lewensmaat, dr. Robbie Nutt, byna vyf jaar gelede het wel ’n rol gespeel. 

“Al wat ek wil sê van rou, is dat dit jou nie ’n beter of ’n slegter mens maak nie. Dit ontbloot jou net. Ek het ook besef dat tyd nie genees nie, dis liefde wat genees.” Sy glo as jy op die lug is, is jy positief en vrolik. Jou eie trane en bagasie mag nooit die luisteraar s’n word nie. “Ek het jare lank gebid om agter te kom wat my lewensdoel is, maar toe besef ek die dinge wat my regtig diep gelukkig maak, is praat en kos. Niks maak my gelukkiger nie” 

Ek moes twee weke ná Robbie se dood weer uitsaai en moes diep in myself gaan krap vir die energie om dit reg te kry.” 

Maar, vertel sy, toe sy werklik daaroor nadink, het sy besef sy het nie haar lewensvreugde verloor nie, al was sy ook hoe hartseer. Daardie besef was die begin van ’n dieper reis van selfontdekking. 

“As jy nie in ’n verhouding is nie, het jy tyd om met jouself deur te bring en vas te stel wat jou doel hier op aarde is. Ons almal het ’n behoefte om te weet wat ons doel is, want niemand wil tog sy doel mis nie. Maar ek dink ons maak dit baie ingewikkelder as wat dit hoef te wees.” 

Vir haar is dit eenvoudig: “God se doel vir jou is om dit te doen wat jy werklik geniet, of dit nou onderwys of uitsaai is. Maak seker dat jy dit werklik geniet, en jy gaan ’n groot verskil aan lewens om jou maak. Jy hoef nie al hierdie ander druk op jouself te plaas met ander mense se verwagtinge van jou lewensdoel nie.” 

Sy vertel sy het jare lank gebid om agter te kom wat haar lewensdoel is. “Ek kon dit nooit kry nie, maar eintlik was dit al die tyd voor die hand liggend. Ek het heeltyd na ’n diep doel gesoek, maar toe besef ek die dinge wat my regtig diep gelukkig maak, is praat en kos. Niks maak my gelukkiger nie. En as jy nou eers agtergekom het wat jou gelukkig maak – daardie heel eenvoudige goed – dan is jy mos elke dag in ’n goeie bui. Al voel dit vir jou hoe simpel, geniet dit! Ek glo God het ons geskape omdat Hy ons wil geniet en wil sien ons geniet wat ons doen.” 

Haar werk gee haar energie. “Mense vra graag of ek nie gedaan is ná daardie drie uur op die lug met Tjailatyd nie, maar weet jy, my batterye is daarna eintlik herlaai.” 

Vir haar is daar ’n groot verskil tussen vreugde en geluk. “Geluk gaan op en af, maar vreugde is ’n konstante ding. Kom ons sê jy kry ’n boetekaartjie, of jy besef jy het vyf kilogram aangesit. Ja, dit maak jou ongelukkig, maar jou vreugde is iets dieper, die ding wat jou werklik gelukkig maak, jou passie.” 

Sy lewe met dankbaarheid. “Ek het elke dag toegang tot kos – dankie tog! – en ek kan elke dag praat.” 

Jare lange vriende is haar anker. “Hulle is my klankbord, en baie is al pelle van laer-skooldae af.” 

Status en aansien beïndruk haar glad nie. “Ek sê altyd: you’ve got to know people in low places, want dis hulle  wat eintlik die lewe vir jou makliker gaan maak. Die sekuriteitswag, die vrou wat die tee maak, die ou wat sorg dat die lugverkoeling in die ateljee werk, die karwag – dis hulle wat jou dag maak, nie die president nie.” 

Reis is ’n ander groot passie, en sy het ook al lang tye oorsee gewoon en gewerk, onder meer in Kanada en Nieu-Seeland. Allerhande werk, van kelnerin en au pair tot dramaklasse gee en skape skeer. Vir nuwe ervarings skrik sy nie. 

“Man, ek kan nie vir jou vertel hoe ek dit geniet het om ’n kelnerin te wees nie. Ek was ook ’n kelnerin in Pretoria in ’n tyd toe ek nie uitgesaai het nie. Ek het selfs vir die tuisnywerheid beskuit gebak!”

In ’n onderhoud met Amore lag jy dikwels. Sy praat met haar hele lyf, ’n oorgawe in alles – die stemtoon, die handgebare, en dit verbaas my nie om te hoor sy het ’n dramagraad nie. Dis nie dat sy probeer snaaks wees nie, dis net hoe sy is. Toe sy vertel hoe sy as 22-jarige au pair haar werkgewer se motor afgeskryf het “sonder dat ek eens binne-in was”, kan jy nie help om te lag nie. (Die kort weergawe is dat sy vergeet het om die handrem op te trek, en dat die eienaar haar wou dwing om baie lank verniet vir hom te werk om die skade te betaal.) 

Sy is nooit getroud nie, en ook hier laat sy my skater van die lag toe sy vertel hoe een destydse kêrel opsluit wou trou, maar dat sy net nie kans gesien het nie. “Hy was ’n fantastiese man, maar hy het soos ’n meelsak gesoen.” 

Sy het omtrent 25 jaar gelede half per ongeluk op die radio beland nadat iemand ’n onderhoud met haar gedoen het oor einste die skaapskeerdery in Nieu-Seeland. 

Maar daar was ’n tyd toe sy verveeld was met kommersiële radio, en toe ’n breuk geneem het. 

Toe, vertel sy geesdriftig, het sy iets van alles gedoen vir ’n maatskappy wat mediese fondse geadministreer het.

“Ek is mos mál oor ’n telefoon. Ek verstaan dit glad nie as mense sê hulle antwoord nie ’n oproep as hulle nie die nommer ken nie. Ek wil juis daardie oproep antwoord, want ek wil wéét wie bel my!” 

Roem het glad nie haar lewe verander nie. “Mense herken my nie sommer op straat nie. Ek doen steeds wat ek altyd gedoen het, en my pelle van altyd is ook nog presies dieselfde. My lewe het niks verander nie. Al verskil is dat dit vir my nuwe deure oopgemaak het, soos my inspirasiepraatjies. Met dié praatjies wil ek mense help om wakker te skrik. 

Toe ons oor die inspirasiepraatjies praat, is sy skielik doodernstig. Sy bly lank stil, en haar oë skiet onverwags vol trane. 

“Ek weet vandag al die pyn was nie verniet nie. Ek kon dit in my lewe integreer, en daarom kan ek dit vier saam met mense wanneer ek met hulle daaroor praat. As ek nou my lewensverhaal op die verhoog vertel, kan ek sê: dit maak nou alles vir my sin. My hele lewe. En hoe meer ek dit vertel, hoe meer vreugde wel in my op. Leonard Cohen was reg toe hy gesê het: ‘was dit nie vir die krake nie, hoe anders sou die lig inkom?’” 

“Ek weet vandag al die pyn was nie verniet nie. Ek kon dit in my lewe integreer”

 Sy het ook deur die jare geleer om na haar onderbewussyn te luister. 

“Truida Heyman het geseg ’n mens se onderbewussyn wil jou help om heel anderkant uit te kom. Daar is gedurig tekens om ons wat ons net moet leer raaksien. God praat nie net met ons deur die Bybel en die kerk nie. Hy praat met ons deur flieks, deur ’n boemelaar, deur ateïste, deur musiek.” 

Sy glo vas ’n mens se benade-ring tot die lewe het ook ’n groot invloed op jou geluk.

 “Die lewe is net ’n spieël van wat hier binne-in jou aangaan. Soos dit binne-in jou is, so is dit om jou. Die lewe gaan jou nooit verkeerd bewys nie – die lewe gee jou presies wat jy sien. 

“Mense dink altyd die belang-rikste besluite in die lewe is of jy gaan trou, watse werk jy gaan doen, of jy gaan kinders hê. 

“Dis nie die belangrikste besluite in die lewe nie. Die belangrikste is hoe jy die lewe gaan sien. As jy glo daar is oorgenoeg liefde, geld, geleenthede, dan sal dit so wees. Maar as jy glo daar is nie genoeg liefde nie, nie genoeg werk nie, dan sal dit so wees.” 

En drome vir die toekoms? 

“Ek gaan nog ’n aktrise word. Ek kon nog net nooit ’n oudisie slaag nie. Maar watch my, ek gaan nog ’n aktrise wees – ek weet dit net. Ek droom nie eens daaroor nie. Ek het geen vyfjaar-planne nie, want ek is só gelukkig hier en nou.

* Dié artikel het oorspronklik op 1 Desember 2014 op www.rooirose.co.za verskyn